Tydens die Tweede Wêreldoorlog bevry genl. Mannerheim se magte 'n dorp wat deur die Rooimagte beset was.
Sewe van die Russiese krygsgevangenes sou die volgende oggend voor ‘n vuurpeloton tereggestel word. Hulle is in die kelder van die stadsaal gevange gehou. In die gange staan die Duitse troepe op wag.
Dronk van oorwinning koggel en terg die Duitsers die Russe. Die Russe hamer vloekend met hul bloeiende vuiste teen die mure en deure. Sommige roep hartverskeurend na hulle vroue en kinders.
Skielik begin een van die Russe by name Koskinen, sing. Hy het van die begin af, gedwee met hangskouers, op 'n bank gesit, 'n toonbeeld van uiterste wanhoop. Hy begin skielik sing, eers stamelend, maar algaande word sy stem sterker, totdat hy sy lied sterk en duidelik triomfantelik uitsing. In die kelder word dit doodstil. Almal luister na die vreemde lied in sulke omstandighede!
Veilig in Jesus arme, sag aan Sy bors gesus,
Daar in Sy liefdeskadu vind my siel eens rus.
Hoor! 'n Lied van Engele, wat sing oor soete vree,
Dit klink oor glorievelde, oor die jaspis see.
Oor en oor sing Koskinen sy liedjie sonder enige versteuring. Een van die ander Russe kom na hom toe.
"Waar kry jy dit?" skreeu hy. "Wil jy ons sag maak?" Koskinen kyk na die man en sy oë vul met trane.
"Ek het dit by die Heilsleër gehoor – drie weke gelede. Die lied het my ondergekry. My ma se God, het nou ook my God geword. Laasnag het ek wakker gelê en ek het geweet ek moet die Saligmaker vind. Ek het gebid soos ek van kleintyd af onthou. Ek het Jesus gevra om my te red, want ek kon nie met my soort lewe die Ewigheid ingaan nie. Bybelverse, uit my kleintyd, het teruggekom na my toe. Ek weet God het my gevat."
Verstom luister sy makkers en die Duitse wagte.”
"Jy is reg, Koskinen, as ek ook net genade kan kry!" roep die Rus wanhopig uit. "My hande is so vol bloed en môre sterf ek. Ek weet nou daar is 'n hel."
Hy sak op sy knieë by Koskinen neer en roep pleitend uit: "Bid vir my, Kameraad!" Die twee Russe bid met hulle koppe naby mekaar. Nie 'n lang gebed nie, maar dit is asof 'n deur na die Hemel self oopgaan. Die haat in die harte smelt weg.
Vieruur die oggend is al sewe Russe op hulle knieë. Van die Duitse soldate staan oor hulle geweerkolwe gebuig en bid. Teen dagbreek gesels die manne met mekaar, oor geestelike dinge. Ou vergete liedere word gesing. Van die Duitsers sing saam.
Toe slaan die toringklok sesuur. Tyd vir die teregstelling. Hoe graag wou die Duitse offisiere die vonnis ophef. Maar dit was nie moontlik nie. Die Russe vra om ongeboeid, met onbedekte gesigte, voor die vuurpeloton te staan. Nog een keer wil hulle Koskinen se lied sing. Dit word toegelaat.
Met opgehewe gesigte, arms omhoog gestrek, sing die Russe: "Sag in Jesus arme, sag aan Sy bors gesus....." Die laaste woorde sterf weg. Geweerskote klap. Dis op aarde verby.
Die Duitse offisier in bevel, het later hieroor gesê: "Wat in die ander manne se harte gebeur het, weet ek nie, maar van daardie oggend af was ek 'n nuwe man, 'n volgeling van Jesus Christus."
Die dag toe die HERE Jesus gekruisig is, het die Hemel se liefde en redding, ook op 'n oordeelstoneel afgedaal. Langs die bloeiende liggaam van Jesus het 'n veroordeelde misdadiger pleitend uitgeroep: "Dink aan my, HERE!"
Hy het dadelik die belofte van vergifnis en vrede ontvang: "Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees."
Niemand se toestand was nog ooit te desperaat om nie deur God bereik en gered te word nie.
Daar is die onlangse verhaal van ‘n moeder wat so gereeld vir haar een seun gebid het. Hulle het hom een Sondag knielend by sy bed gekry, reeds Huis toe. So het ons baie soortgelyke verhale. Moet nooit moed opgee nie, hou aan met bid en dank.
Weet dit: Geen gebed vir die redding van ‘n ongelowige, sal onbeantwoord bly nie. Liefde bring hulle beslis in.