Wys tans plasings met die etiket God ken jou geheime van jou hart. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God ken jou geheime van jou hart. Wys alle plasings

Saterdag 24 November 2018

God ken jou...


Soos wat die HERE van Filippus en die Ethiopiër geweet het, weet Hy ook van jou!


Jy sal die HERE nooit kan ontduik nie. “Want God ken die geheime van die hart.” Ps 44:22

“Daar is 'n God in die Hemel wat geheime openbaar.” Dan 2”28

“Want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.” Matt 10:26

Moet nooit die fout maak om te dink niemand weet nie

"...  want U alleen ken die hart van AL die mensekinders." 1 Kon 8:39

"Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die HERE. Vervul Ek nie die Hemel en die aarde nie? spreek die HERE." Jer 23:24

Ernstige waarskuwing: “Wie geheime hou sal nie voorspoedig wees nie, wie bely sal genade ontvang.” Spr 28:13

Dit is maar in kort hoe die HERE van jou en my en Filippus en die Ethiopiër weet...

“’n Engel van die Here het vir Filippus gesê: ‘…gaan teen die middag na die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop. Dit is ’n stil pad…’n Etiopiër…was nou op pad…en het op die wa gesit en uit Jesaja gelees. Die Gees sê vir Filippus: ‘Gaan loop saam met daardie wa.’” Hand 8:26-30

 

Henry Norris Russel, sterrekundige van Princeton, het ’n lesing oor die hemelruim, en veral oor die Melkweg, gegee. Na die indrukwekkende lesing kom ’n vrou na hom toe en vra: “As ons aarde so klein is, en die heelal so groot is, Professor, hoe kan ons glo dat God aan ’n enkele mens, aan my, aandag gee?”

            “Russel antwoord: “Dit hang alles af van in hoe ’n gróót God u glo.”

            Die onbegryplike grootheid van God, word van die begin van die Bybel tot sy einde, verkondig. Dawid het God se grootheid besing: “… groot is U, Here my God! Daar is niemand soos U nie. Buiten U is daar geen God nie… die HERE, die Almagtige…” 2 Sam 7:22,23

In Openbaring kniel die 24 ouderlinge – hulle verteenwoordig ons as Gelowiges – “Ons dank U HERE God, Almagtige, U wat is en wat was, dat U nou u groot mag gebruik en as koning heers.” Opb 11:17

Jesus, wat God sy Vader se grootheid, geken het, het die groot wonder bygevoeg: God ken ons, sien ons raak, sorg vir ons, Hy het ons lief: “Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie.” Luk.12:7

En God maak die mens se hart sy woning. So naby kom Hy na ons toe.

Die Ewige God van die Hemel het in sy liefde in mensegestalte, in Jesus Christus sy geliefde Seun, na ons toe gekom. Jesus kon sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy met My.” Opb.3:20

Jou hartsdeur het net aan die binnekant ‘n klop. Jy en jy alleen, sal moet oopmaak.

Jesus is God wat deur die Heilige Gees in ons inkom en ’n nuwe lewe in ons hart bring en die God van die Hemel, die God van ons hart en lewe maak, sodat ons Hom vrymoedig noem: “My Vader.”

            Hoekom moes jy vandag hierdie boodskap lees? Wel, jy wat nie die HERE dien nie, moet besef die HERE praat met jou, dis hoekom hier moes lees.

            En jy wat die HERE dien, moet besef, die HERE stuur jou na die ongereddes om die Volk bymekaar te maak vir sy Koms. Stuur hierdie boodskap wyd en syd. Druk dit en versprei per hand in elke posbus en hand in jou kontrei.

Niks in hierdie lewe, was ooit belangriker nie. – Wekroep