Isak Burger: God se familie troef politieke verdeeldheid
Deur Isak Burger Woensdag 03 Junie 2015 Netwerk24
“ Ons is eerstens Christene en dán Suid-Afrikaners. ”
Een van die onverkwiklikste neigings die afgelope tyd is die uitsprake van sommige (veral die president) wat regstreeks en onregstreeks verwydering en polarisasie tussen wit en swart meebring. Veral die deursigtige pogings om wit mense die sondebokke vir ’n mislukkende regering te maak, bring verharding van harte na albei kante.
Terwyl wyle oudpres. Nelson Mandela wonderbaarlik daarin geslaag het om versoening en welwillendheid tussen wit en swart te bevorder, is polarisasie sedertdien stelselmatig en toenemend bevorder. Dit beteken dat die klowe tussen mense en rasse al hoe wyer word.
Daar was nog altyd “natuurlike” klowe tussen mense wat mense om verskillende redes laat groepeer. Dink maar aan nasionalistiese klowe – Suid-Afrikaanse emigrante in ander lande soek mekaar op en vorm sosiale groepe. Daar is “iets” wat hulle saambind. Daar is provinsialistiese en sport-klowe – dink Stormers en Bulle. En so kan ’n mens voortgaan oor taal, kultuur, politiek, godsdiens, sosiale stand, etnisiteit, ensovoorts.
Hierdie verdeling of onderskeid ontstaan omdat mense oor sekere belangstellings, tradisies, kultuur en waardes tot mekaar aangetrokke voel. So is daar, ondanks historiese verskille en verdeeldheid tussen Christene, ’n toenemende besef dat ons eintlik deel is van dieselfde familie – God se familie wat deur ons geloof in Christus aan mekaar gebind is.
Natuurlik is dit ’n verleentheid dat daar dikwels in kerke en tussen kerke verdeeldheid is. Aan die ander kant het daar in die afgelope twee dekades ’n groter uitreik na mekaar gekom. Sedert 1994 is die godsdienstige speelveld in Suid-Afrika gelyk gemaak. Daar is ’n toenemende besef dat ons ten diepste tot dieselfde familie behoort. Van groot Christelike byeenkomste tot in klein huisgroepe maak kerkverband al hoe minder saak.
Veral onder lidmate is baie van die historiese vreemdheid aan mekaar besig om te vervaag. Ek het die voorreg om oor die wye spektrum van kerke in ons land te bedien en sien dat gelowiges al hoe minder belang het by kerkpolitiek en leerstellige verskille. Kortom, daar is op grondvlak ’n groter behoefte aan eenheid as ooit tevore.
In ’n land met soveel Christene op elke vlak en terrein van die lewe het die kerk ’n heilige roeping om mekaar se hande te neem oor alle bestaande klowe heen. Vir ware volgelinge van Christus is ons Christenskap ons belangrikste identiteit. Ons is eerstens Christene en dán Suid-Afrikaners; eers Christene, dán wit mense of Zoeloes; eers Christene, dán ANC of DA of VF+.
Ek het in die praktyk ervaar dat dit moontlik is. Nadat ons kerk, wat in sy samestelling ’n mikrokosmos van die land is, in 1996 struktureel verenig het, was dit merkwaardig om te sien hoe die evangelie mense oor tradisionele klowe heen laat hande vat. In ons eerste algemene vergadering was daar verteenwoordigers van die verlinkse tot die verregse politieke partye. Politieke, ideologiese, etniese, kulturele, klasse- en taaldiversiteit van feitlik elke moontlike groepering in Suid-Afrika is in ons kerk teenwoordig.
Ek kan nie sê dat ons eenheid volkome is nie. Ons moet voortdurend daaraan werk en daaroor praat. Die blootstelling aan mekaar bring egter groot begrip vir die diversiteit tussen ons. Verhoudings en vertroue word steeds gebou. Terwyl die kloof en kulturele verskille tussen die Eerste en die Derde Wêreld sy uitdaging aan leierskap stel, is daar soveel getuienisse dat ons hierdie pad in vrede en harmonie kan stap.
Wat ’n verskil kan dit nie in ons land maak nie as Christene ondanks ons diversiteit tot die besef kom dat ons verhouding met God belangriker as al ons verskille is. En dat ons mekaar as kinders van God oor alle grense heen as sodanig sal erken en respekteer.