Wys tans plasings met die etiket Afrikaans;Spiritual and Regional; Ewige lewe; geregtigheid; Jesus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Afrikaans;Spiritual and Regional; Ewige lewe; geregtigheid; Jesus. Wys alle plasings

Woensdag 25 Februarie 2015

‘Ek noem julle vriende…’


Image result for relationship with jesus christ







“Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie … nee,
Ek noem julle vriende … “  Joh. 15:15.

Die HERE praat met ‘n mens op vele maniere. Een daarvan is deur menslike vriendskap. GOD bring mense bymekaar, laat word hulle vriende, op so ‘n wyse, dat die vriendskap kragtig werk om ons te red van die verwarring en ellende waarin ons onsself van tyd tot tyd bevind en ons te bou tot rotspilare in Sy Koninkryk.
            Aristoteles wat 300 voor Christus gelewe het, word nie eintlik as ‘n Christen-filosoof beskou nie, maar sy drie elemente oor vriendskap straal die mooi gesindheid van Christus uit.
            Eerstens het hy gesê, vriende is mense wie se geselskap ons geniet. Een van die dinge wat ‘n ware vriendskap tot gevolg het  is om mekaar te laat glimlag wanneer hulle van mekaar hoor of mekaar besoek bring.
            Die ervaring tussen ware getroue vriende is altyd vrolik. Hulle kan die verskrikking van die lewe vir mekaar verander in geleenthede van soveel opregte erns, maar ook uitbundige vrolikheid.
            Dit word ook gesê ‘n getroue vriend is ‘n sterk skuiling. Hy wat so ‘n vriend het, het ‘n skat gevind.
            Die dissipels kon sekerlik dieselfde van die HERE Jesus Christus sê: Of hy nou iets met hulle gedeel het, saam langs die See van Galilea gaan stap het, gelag het by ‘n eetmaal, wyn geskink het by ‘n bruilof, gehuil het by ‘n vriend se graf, selfs wanneer Hy hulle vermaan het – sy blote teenwoordigheid kon die gewone teleurstellings en die bitter van die lewe transformeer na ware lewenskrag, oomblikke van bruisende varsheid, nuwe insig, nuwe visie en ook nuwe insig oor die werklikheid van die Ewige Lewe.
            Soms wil mens net by daardie iemand besonders wees. Nie by enigiemand nie, daardie besonderse vriend wat jy weet wat nooit uitpraat nie omdat hy of sy lojaal aan jou is, graag wil luister wanneer jy praat. Al klink jou gepraat soms ook na die versinsels van verdwaalde gedagtes.
            So is GOD ook ons Vriend. Soms wil ons net alleen in ons binnekamer, in die woud, langs die strand, iewers, alleen met Hom wees. Daar is sake wat jy op Sy uitnodiging eenvoudig moet uitpraat.
            Tweedens het Asristoteles gesê: Vriende is mense wat mekaar help. Paulus beklemtoon  dit in ‘n brief aan die Korinthe:  In elke moeilikheid  bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle  bemoedig met dieselfde  bemoediging waarmee GOD ons bemoedig. (2 Kor. 1-4)
               Soms gaan mens deur ‘n dal van doodskaduwee. Ons weet GOD is steeds by ons. Die volgende oomblik stuur Hy ‘n vriend om ons te help. Inderdaad is dit GOD wat help. Hy gebruik die vriend. Alhoewel ons altyd baie dankbaar is vir die vriend, moet ons onthou dat onse GOD ‘n jaloerse GOD is en dat Hy AL die eer wil hê.
            Derdens het Aristoteles gesê: Vriende is mense met wie ons ‘n visie deel, soos ‘n Dawid en ‘n Jonathan, een van hart en siel. (1 Sam. 18:1-5)
            Ons is nou omring deur moeilikhede en gevare. Nou stry ons saam vir dit wat die hoogste waarde het. Geen omstandigheid kan vriende se dunk van mekaar verander nie.
            Kyk weer na Joh. 15:15: Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy  heer doen nie. Nee, Ek  noem  julle vriende, omdat Ek  alles wat Ek van my ader gehoor het, met julle  gedeel het.”
            Vriende se lewens verskil in baie opsigte. Dit word respekteer. Maar ware vriende word saamgebind deur die visie van GOD se heerskappy, GOD se geregtigheid, GOD se vrede, GOD se Koninkryk, GOD se wil vir ons Volk en ons toekoms, en geen omstandighede van tyd of afstand kan vriende skei van die gemeenskaplike visie wat ons in Christus Jesus deel nie!
            En wat sal die mense eendag van vriende sê? ‘n Prediker sê een keer tydens ‘n begrafnisdiens: Die oorledene was ‘n wonderlike vader, ‘n liefdevolle eggenoot, ‘n reuse bate vir die samelewing…
            Toe stamp die ma aan haar seun en sê: Gaan kyk vir my in die kis en maak seker dis jou pa van wie hy praat.
            Maar, oor ware vriende sal die mense praat soos vandag oor Dawid en Jonathan.
            Oor ons visie vir die Volk se herlewing en verlossing het ons Sy belofte in Jeremia 32: 27: Kyk, Ek is die HERE, die GOD van alle vlees; sou enige ding vir My té wonderbaar wees? – Sjibbolet

1. WAT 'N VRIEND HET ONS IN JESUS,
   HY WAT IN ONS PLEK WIL STAAN;
   WAT 'N VOORREG OM GEDURIG
   TOT GODS TROON DEUR HOM TE GAAN!
   HOE VERBEUR ONS TOG DIE VREDE,
   AG, HOE DIKWELS LY ONS SMART,
   NET OMDAT ONS NIE ONS NODE
   UITSTORT IN GODS VADERHART!

2. AS VERSOEKING EN BEPROEWING,
   OF AS KWELLING ONS BEDREIG,
   LAAT ONS NOOIT MISMOEDIG WORD NIE,
   LAAT ONS BEDES OPWAARTS STYG.
   NêRENS IS 'N VRIEND GETROUER,
   AS HY WAT ONS NODE WEET;
   JESUS VOEL MET AL ONS SWAKHEID,
   EN WIL DEEL IN AL ONS LEED.

3. IS ONS SWAK, GEDRUK DEUR LASTE,
   ONDER KOMMER NEERGEBUK,
   DIERB'RE HEILAND, ONSE TOEVLUG,
   O BEVRY ONS WEER VAN DRUK!
   AS ONS VRIENDE ONS VERSAAK HET,
   SOEK ONS IN GEBED DIE HEER,
   AAN SY BOESEM IS ONS VEILIG,
   HY VERTROOS ONS KEER OP KEER.

Woensdag 11 Februarie 2015

Is daar plek in die Hemel vir ons almal?



Hoe groot is die Hemel?

Dit moet allemintig groot wees as ons die sterre as ‘n soort maatband inspan. Wetenskaplikes het die uitspansel in melkweë opgedeel in ‘n poging om te probeer bepaal hoeveel sterre daar is.
            Klein melkweë het elk sowat 10 miljoen sterre. Die groot melkweë het sowat 10 triljoen sterre elk. Ons eie melkweg het sowat 200 biljoen sterre. En sterre of planete is in meeste gevalle groter as die planeet Aarde.
            As ons in ons eie melkweg van die een kant na die ander sou reis teen die spoed van lig, sou die reis 100 000 jaar duur, aldus NASA, die Ruimte-agentskap.
            En steeds weet die wetenskaplikes nie presies hoeveel sterre daar is nie want hulle ontdek steeds nuwe melkweë. Hoe groter en sterker die teleskope wat deur die mens vervaardig word, hoe groter word die heelal. Dis onpeilbaar.
            Hoe groot is die heelal dan? Al wat NASA kan antwoord is, “oneindig”.
            En hoe is groot God dan? Hy is onmeetbaar groot, maar let op, Hy is so groot: “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.” Ps 147.4
            Christene glo, aan die hand van die Skrif, dat hulle, wanneer hulle die tydelike met die Ewige verwissel, Hemel toe gaan. Dit gaan wel gebeur, maar is daar plek vir almal, vra iemand.
            Aan die hand van die bogenoemde paar feite, sal al die gelowiges op aarde nooit die Hemel kan vul nie.
            Ons is veronderstel om saam met Jesus Christus in Hemelse plekke te sit, maar is dit waar ons is?
            “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus —  uit genade is julle gered —
“en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,
“sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van Sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
“nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
“Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus (hoekom?) tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. Efes. 2:4-10.
God het ‘n plan met elkeen van ons se lewens. Binne daardie plan word van elkeen van ons verwag om die Koninkryk te help bou.
Dit in kort is waarom jy en ek gebore is.
            Maar, elkeen wat gebore word, het ‘n vrye keuse: Om die pad na die Hemel te bewandel of op die breë weg na die afgrond te volg.
            Maak jou keuse! – Sjibbolet