Woensdag 11 Februarie 2015

Is daar plek in die Hemel vir ons almal?



Hoe groot is die Hemel?

Dit moet allemintig groot wees as ons die sterre as ‘n soort maatband inspan. Wetenskaplikes het die uitspansel in melkweë opgedeel in ‘n poging om te probeer bepaal hoeveel sterre daar is.
            Klein melkweë het elk sowat 10 miljoen sterre. Die groot melkweë het sowat 10 triljoen sterre elk. Ons eie melkweg het sowat 200 biljoen sterre. En sterre of planete is in meeste gevalle groter as die planeet Aarde.
            As ons in ons eie melkweg van die een kant na die ander sou reis teen die spoed van lig, sou die reis 100 000 jaar duur, aldus NASA, die Ruimte-agentskap.
            En steeds weet die wetenskaplikes nie presies hoeveel sterre daar is nie want hulle ontdek steeds nuwe melkweë. Hoe groter en sterker die teleskope wat deur die mens vervaardig word, hoe groter word die heelal. Dis onpeilbaar.
            Hoe groot is die heelal dan? Al wat NASA kan antwoord is, “oneindig”.
            En hoe is groot God dan? Hy is onmeetbaar groot, maar let op, Hy is so groot: “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.” Ps 147.4
            Christene glo, aan die hand van die Skrif, dat hulle, wanneer hulle die tydelike met die Ewige verwissel, Hemel toe gaan. Dit gaan wel gebeur, maar is daar plek vir almal, vra iemand.
            Aan die hand van die bogenoemde paar feite, sal al die gelowiges op aarde nooit die Hemel kan vul nie.
            Ons is veronderstel om saam met Jesus Christus in Hemelse plekke te sit, maar is dit waar ons is?
            “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus —  uit genade is julle gered —
“en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,
“sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van Sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
“nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
“Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus (hoekom?) tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. Efes. 2:4-10.
God het ‘n plan met elkeen van ons se lewens. Binne daardie plan word van elkeen van ons verwag om die Koninkryk te help bou.
Dit in kort is waarom jy en ek gebore is.
            Maar, elkeen wat gebore word, het ‘n vrye keuse: Om die pad na die Hemel te bewandel of op die breë weg na die afgrond te volg.
            Maak jou keuse! – Sjibbolet