Maandag 23 Februarie 2015

Die vyf wyse en die vyf dwase lampdraers


Image result for virgins with oil lamps in the Bible

Ons lees van die tien maagde. Wie is hulle?
”Dan sal die Koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet.
“En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas.
“En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie.
“Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem.
“En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.
“En middernag was daar 'n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!
“Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed.
“En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.
“Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.
“En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.
“Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop!
“Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.
“Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.” Matt. 25:1-13
In die dae van hierdie gelykenis het tradisionele huwelike in die nag plaasgevind. Dit was die gebruik dat bruidsmeisies met lampe die bruidegom buite die dorp inwag en na die plek waar die huwelik sou plaasvind, begelei.
Met hulle lampe het hulle ook bykomende lig by die seremonie verskaf.
Daar was gesê die bruidegom is op pad, daarom neem hulle hul lampe en gaan uit om hom in te wag. Maar hy het getalm om te kom.
Hulle het so lank gewag dat hulle aan die slaap geraak het.
Die bruidsmeisies was inderdaad ongetroud en dus nog maagde, daarom dat hulle maagde genoem word.
In ons dag is al die wedergeborenes maagde, of dan Christene. Weer is die nuus daar dat die Bruidegom kom, maar hy talm om te kom.
Vraag is: Hoeveel van ons is wys en hoeveel van ons is dwaas?
            Die wyse sê hulle sorg dat hulle genoeg olie het en wag hom met groot blydskap in.
Die dwase kom met allerlei praatjies en begin twyfel aan die koms van die Bruidegom.
Die waarheid is: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” 2 Pet. 3:9
Die kerk van ons tyd is die Gemeente van Laodicéa: Die meeste lidmate is lou en staan gevaar om deur die HERE uitgespuug te word.
Aan hulle sê Hy by herhaling:
“Maar die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.” 2 Pet. 3:10-11
Die wyse maagde sorg dat hulle aan die vereistes voldoen soos in waar manne in die gemeente aangestel moes word wat ook aan spesifieke vereistes moes voldoen: “Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel...” Joh. 6:3
Die wyse Christene sorg dat hulle van goeie getuies is, vol is van die Heilige Gees en wysheid in pag het.
Die tekens van die tye soos vermeld deur Jesus Christus self in Matt. 24 is in hierdie dag en uur ‘n werklikheid. Daarom sê die Skrif:
“Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? –
“julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt.
“Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.
“Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.”
“En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het,
“net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf. (Inderdaad is ongeleerde en onvaste mense besig om die Woord te verdraai).
“Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, (waarom Hy dan talm) moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. (Inderdaad word die dwase Christene meegesleep deur die dwaling van sedelose mense en val hulle weg uit hulle standvastigheid).
“Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen.” 2 Pet. 3: 11-18
Die wyse Christene sorg dat hulle getuienis vasstaan, dat hulle vol is van die Heilige Gees, dat hulle wysheid in pag het deur te sorg dat hulle toeneem in die genade en kennis (wysheid) van Jesus Christus, hulle Saligmaker.
Die wyse Christene verwag die Bruidegom deurentyd en sorg dat hulle deurentyd gereed is. Hulle lampe is vol en hulle sorg ook vir ekstra olie.
Hulle bid meer as net gereeld, hulle dra hulle getuienis uit, hulle plaas ‘n wag voor hulle mond, hulle bestudeer die Skrifte, lees elke dag hulle Bybel, woon die gemeenskap van die heiliges se byeenkomste by. JA, hulle sorg dat hulle niks mis nie. Hulle wandel in die Gees en in Waarheid.
Die wyse Christene volhard. Sonder volharding kan daar geen oorwinning wees nie. “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” Matt. 10:22; 24:13. Die woorde volhard en volharding kom 18 keer in die Nuwe Testament voor.
“Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.
“Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” Matt. 7:13-14
Ons moet altyddeur gereed wees vir die koms van die Bruidegom Jesus Christus. Selfs in tye van vrede bly ‘n weermag op gereedheidsgrondslag. Dit gebeur min dat daar brande in Suid-Afrika ontstaan, maar die Brandweer is dag en nag op ‘n gereedsheidsgrondslag.
Jy kry ‘n oproep van ver af, ‘n familielid is ernstig siek en die ergste word verwag. Jy maak gereed om te ry sodra jy hoor dat die ergste gebeur het. Elke telefoonoproep ruk deur jou wese, want dalk is dit die ergste en jy moet dadelik ry.
As jy besig is om hier te lees, dan is hierdie jou oproep. Maak gereed, wees gereed: Die Bruidegom kom vir seker.
In die skrywer se kantoor hang ‘n geskrif ten die muur: “Dalk Vandag!” Dis om almal daaraan te herinner: Dalk kom die Bruidegom vandag!
“Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” Luk. 21:36
Met die aardskuddings in die Boland etlike jare gelede, was mense oral met vrees gevul. Geboue het gekraak en ingetuimel. Waterpype het gebars, die aarde het oop gekraak, berge het geskud.
In Markstraat in die Paarl hardloop ouma Johanna de Villiers vol blydskap tot in die straat. Sy het die straat op en af gekyk, in die lug gekyk, en byna teleurgesteld teruggestap in haar huis: “Ek het gedink dis die Wederkoms!”
Sy was altyd gereed.
Wat doen die wyse Christene om te verseker dat hulle kan volhard tot die einde toe?
Hulle hou hulle lampe vol olie en sorg vir ekstra olie. Hulle versaak nie die gemeenskap van die Heiliges nie, hulle bid elke dag, bestudeer die Woord gereeld, bring ure alleen saam met die HERE deur en dra hulle getuienis in woord en in daad daagliks uit terwyl hulle bou aan die Koninkryk van GOD.
Wat doen hulle nog?
            “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” Fil. 4:4 (hoekom?) Want hulle lewe in afwagting op die koms van die Bruidegom.
            “”Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.” Openb. 19:7
Wyse Christene lewe daagliks in blydskap teenoor die HERE want hulle weet hulle dae van swaarkry op die Planeet Aarde is eersdaags verby.
“En GOD sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” Openb. 21:4
Een van die “uitstaande” sondes wat GOD grief, is huigelary en geveinsdheid. Daar is Christene wat getuig dat hulle wedergebore is, maar hulle vernietig die Christendom. Hulle mond bely een ding, maar hulle handelinge
toon ’n gejaag na geld, selfvervulling, plesier.
            Paasnaweke bespreek hulle al ’n jaar vooruit vakansies by plesierplekke. Die gemeenskap van die Heiliges, aanbidding en dit waaroor die Pase handel, is nie eers in hulle gedagtes nie.
            Dit sal goed wees as die regerings van die wêreld openbare vakansiedae en Christen-vakansiedae afskaf, sodat daardie Christene wat GOD in Gees en in Waarheid aanbid, verlof kan neem, offers kan bring, om die Heilige dae te gedenk. Eers dan sal mens die Christen van die wêreld, die kerk van die Koinonia,  kan onderskei. Huidiglik is daar min verskil tussen die Christendom en die wêreld.
            Kerke praat gedurig van hervorming. Liedereboeke word gereeld vervang met nuwes. Die Bybel word voortdurend opnuut vertaal. Die Evangelie word deurentyd verwater. Die een kompromie na die ander word aangegaan en die Christendom bevind homself in heerlik verdoemende grys area.
            Sou wedergeborenes wat 300 jaar gelede die HERE gedien het, hel toe wees omdat hulle Bybels nie korrek vertaal was nie? Wie sê dis nou reg vertaal?
“...want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
“en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.” 11 Tim. 4:3-4
Alle godsdienste is ewe skielik aanvaarbaar, so ver heen is die Christendom al gebreinspoel. Bybelse morele waardes en standaarde tel nie meer nie. Al wat saakmaak is die grys area.
Die wyse Christene skaar hulle by die Woord: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
“sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” 11 Tim. 3:16-17
Die dwase Christene verkies die grys area. Die grys area is verraad teenoor Jesus Christus en maak van Christus ’n bespotting, vertrap die Bloed van Jesus. Dit ondermyn die totale Christendom en vernietig die geloofwaardigheid daarvan.
Die dwase Christene staan gelyk aan die wêreld wat betref die patetiese opvoeding van hulle kinders, dat hulle nie hul gesinne kan regeer nie, dat hulle buite-egtelike verhoudings het en egskeidings hoogty vier, hulle mishandel hul vroue, hulle verkeer telkens in dronkenskap.
Hulle stel geen Bybelse morele voorbeeld aan die Wêreld of aan hulle gesinne nie.
Maar dank God, die Bruidegom talm om te kom... daar is nog geleentheid om jou lamp vol te maak... net-net geleentheid. – Sjibbolet