Woensdag 26 September 2018

Oor Vrees en Benoudheid...



God se Genade en Liefde het geen perke nie. God kan in ‘n oomblik doen wat ek en jy nie in ‘n leeftyd kan vermag nie.

            Ons leserstal beloop reeds meer as 1 miljoen. Daar is bykomend hiertoe ook ‘n persoonlike poslys. Ons ontvang daarom ook gereeld pos vanoor ‘n wye spektrum.

            Wat opval van die jongste pos is mense se vrees en benoudheid of hulle gereed is vir die koms van Jesus.

            Hulle getuig dat hulle gered is, maar die snel veranderde wêreld met al sy wreedhede, ontstel hulle, maak hulle bang. Christene word in 50 lande in die wêreld brutaal en toenemend vervolg, vermoor.

            Daar is tans oorlog in 67 lande van die wêreld.

            Christene moet kies: Christus of Allah. Kies hulle Christus word hulle koppe wreed in die strate afgekap, word hulle aan die brand gesteek, summier doodgeskiet, in staalhokke verdrink.

            Sommige is nie so seker of hulle die durf het om Christus te kies en onthoof te word nie.

            Tydens berading is dit duidelik dat die “doodsheid” in hul kerke ‘n groot rol in hul vrese speel. Hulle is Christene maar hulle sien en beleef God nie in aksie nie.

Die groot onbeantwoorde vraag is: “Waar is God?” en “Is ons nie reeds verwerp nie?” “Waar is die Liefde?”

            Hulle sê hulle is jare lank al Christene, maar hoe weet hulle of hulle steeds Christene is? Sommige word deur spoke uit die verlede getreiter, voordat hulle gered is en ook nadat hulle gered is.

            Daar was die keer toe die HERE gesê het beweeg na links en (soos Jona) in ongehoorsaamheid het hulle regs beweeg. “Daarop kom die skeepskaptein na Jona waar hy onder in die boot slaap, en sê vir hom: Wat makeer jou dat jy so vas slaap? Staan op, roep tot jou God! Miskien sal dié God aan ons dink, sodat ons nie vergaan nie.” Jona 1:6

            Jy hoef nie via ‘n vis se ingewande weer by Lewe uit te kom nie. Staan op en roep tot God!

            Hulle weet van die profesie van die groot afval in die Laaste Dae en hulle wonder of hulle nie straks deel daarvan is nie. Hulle geestelike lewens het ‘n lewelose ritueel geword. Die boosheid mors met sommige Christene se gedagtes. Nogtans, die HERE sê Hy verstaan die “versinsel van die gedagtes.” 1 Kron 28:9

            Teleurstelling en hartseer, gemeng met vrees en benoudheid, loop diep. Baie is ongelukkig oor “verkeerde dinge”  in gemeentes. Sommige het reeds hul gemeentes verlaat, ander beplan om dit te doen.

            Die kerk se stilswye oor die onheil en afval, laat hulle wonder waar hul kerke staan wat betref die gereedheid vir die Wegraping.

            Hulle sê dat terwyl die Lig die Duisternis moet verdryf, is die Duisternis besig om die Lig te verdryf.

Met Habakuk het dit ook so gegaan. Lees Habakuk 1:1-17. Dis sulke briewe wat die moedelose Christene skryf. Sommige het selfs in berou na sterk drank begin gryp.

“Toe antwoord die HERE my en sê: Skryf die gesig op en graveer dit op tafels, sodat hulle dit in die verbygaan kan lees. (soos ons dit elke dag in die media sien en lees)

“Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie:

“Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.

“En bowendien, die wyn is 'n bedrieër, 'n trotse man is onbestendig: hy wat sy keel wyd oopmaak soos die doderyk, en soos die dood is hy, so onversadelik – hy vergader vir homself al die nasies en maak vir hom al die volke bymekaar.” Hab 2:2-5

Die benoudheid duur nog ‘n rukkie voort, maar Habakuk skop vas: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.

In Karoo-taal sou hy gesê het: Al is alles in sy kanon, nogtans jubel ek in die HERE

“Die HERE, Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes.” Hab 3:17-19

            Die vervolging van Christene reg oor die wêreld duur toenemend voort. Berigte hieroor in die media wakker die vrese aan.

Dit is nou 60 jaar dat Geopende Deure vervolgde Christene reg oor die wêreld ondersteun.

            Die organisasie steun honderde duisende Christene wat weens hul geloof in Jesus Christus vervolg word. Dit is ‘n reddingsboei vir talryke elke jaar. Die organisasie verskaf kos, medikasie, trauma hulp, veilige huisvesting en skole, asook geestelike ondersteuning deur Christelike lektuur, opleiding, ens.

           Die Britse regering beskou Godsdiensvryheid as ‘n prioriteit en hanteer dit as deel van Menseregte. 

            Christene is slagoffers van geweld weens hulle geloof. Hulle word doodgemaak, in tronke toegesluit of wreed aangerand. In Sirië en Irak gee Geopende Deure kos aan 24 000 gesinne wat moes vlug weens vervolging.

            In Noord Korea sit tussen 50 000 tot 70 000 Christene in tronke weens hulle geloof.

            Dis of die satan in ‘n wedloop teen die Wederkoms gerig is… sy allerlaaste kans om te vernietig.

            “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun,

en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.” Luk 21:25-26

            Hou in gedagte… ons het die satan se koninkryk verlaat en oorgeloop na Christus se koninkryk. Van daardie oomblik af is ons ‘n gevaar vir die satan want ons getuig en beroof hom van al hoe meer mense. En dis ons roeping.

            Die Christendom is die grootste en steeds groeiende godsdiens op aarde. Die satan kan ons nooit weer terugwen na sy koninkryk toe nie, maar hy doen alles in sy vermoë om ons te keer om sy koninkryk enige skade te berokken.

            As mens ‘n binding in jou gees het weens een of ander sonde of geheim of onvergewensgesindheid, , is ons magteloos. ‘n Rusie kan dit ook veroorsaak.

            As geestelike doodsheid in ons lewens inkom, veroorsaak dit ook ‘n binding in ons gees. Dit lei tot allerlei vrese en twyfel.

            Dan word mens ook vatbaar vir leuens van die satan. Hy word in Joh 8:44 beskryf as “’n mensemoordenaar van die begin af”. Verder: “In hom is daar geen waarheid nie… hy is die vader van die leuens.”

            Dis hy wat vertwyfeling by Christene bring oor hul geloofsekerheid.

            “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.

            “Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.” 1 Tim 4:1-5

            Sommige Christene loop al baie, baie jare met ‘n las van ‘n optrede wat hulle aangevang het en verkeerd gedoen het, suiwer uit onkunde. Hulle was te jonk om die fout te besef. Nou wonder hulle: Wat gaan Jesus sê?

            Daar is geskeides wat vrees of hulle gaan agterbly. Of hulle vrees dat wanneer hulle voor die Groot Wit Troon staan, Jesus mag vra: En war is jou maat?

            Duisende aangenome kinders soek na hul biologiese ouers, vind hulle, maar hul ouers verwerp hulle omdat hulle nooit vir hul troumaats, hul kinders en familie van so ‘n kindjie vertel het nie. Hulle dien die HERE al jare lank, maar nou wonder hulle sal hulle saamgaan met die Wegraping... want die skuld laai op en die kommer oor wat Jesus sal sê.

            Daar is dinge wat sommige jare gelede gedoen het wat niemand van weet nie, maar nou vrees hulle die Wegraping want hulle besef, al het niemand geweet nie, is die dag hier wat almal sal weet. In die Hemel is niks verberg nie.

            Christene se kennis oor die Genade en Liefde van God, skiet ver te kort.

            Die Heilige Gees waarsku, maar hyself sal nooit vir ons lieg en vertwyfeling saai nie.  “Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” 2 Tim 1:7

            Kyk wat sê Jesus oor my en jou: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.

            Vroue wat aborsies laat doen het, vrees wat hulle gaan doen as hulle wel die Hemel haal en hul geaborteerde kinders daar moet ontmoet en weet dat almal dan van die geheime aborsie sal wees. Vroue word rasend van vrees. Sommige huil onbedaarlik.

            “Word twee mossies nie vir 'n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.

            “En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.

            “Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.” Matt 10:28-31

Mense kan mekaar se liggame doodmaak, maar nooit mekaar se siele nie. Net God self kan ‘n siel uitwis. Mens dink hier aan al die aborsies in die wêreld... Miljoene babas wag in die Hemel op hul moeders se dag van afrekening, maar selfs in hierdie geval kan God se liefde en genade red.

Die HERE sê ook: “Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.” Opb 2:10

Wanneer al hierdie dinge gebeur, sê die HERE: “En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in 'n wolk, met groot krag en heerlikheid.

“En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.” Luk 21:27-28 – Sjibbolet