Maandag 10 September 2018

‘Maak reguit paaie vir julle voete’


Michelangelo, die hoogs gekultiveerde kunstenaar met uitgebreide kennis van die natuur- en geesteswetenskappe, het die hele voorste muur van die Sistine Kapel in die Vatikaanstad gebruik om in opdrag van die pous, die Laaste Oordeel te skilder.

Michelangelo het 300 mense, mans en vroue geskilder wat heen en weer tussen die aarde en die Hemel beweeg. Almal is Hemel toe vir die Laaste Oordeel. Diegene wat geslaag het, het in die Hemel gebly, die ander is teruggestuur aarde toe, na die groot verdoemis.

Dit is hoe dit lyk:

 

Dit het vier jaar geduur (1536 – 1541) om die werkstuk te voltooi.

Die sekretaris van die pous destyds was iemand wat sy neus oral ingesteek het en was ‘n regte beterweter. Hy het voortdurend met Michelanglo se werk fout gevind. Dis toe dat Michelangelo die hel onder in die regterhoek skilder. In die hel staan die sekretaris met ‘n slang om sy middellyf. Hy was hoogs ontsteld en het by die Pous gaan kla.

Die pous het kom kyk. Na ‘n ruk het die pous gesê hyself het geen gesag oor die hel nie en as Michaelengelo hom daar ingesit het, sal hy maar daar moet bly.

Kyk, hy is vandag nog daar:


Die sekretaris het nooit om verskoning gevra nie en hy is nooit vergewe nie. Sy optrede was strydig met die Skrif: “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense." Rom 12:18

  Terwyl die skilder, Leonardo da Vinci, toe hy met sy beroemde skildery, Die Laaste Avondmaal, besig was om die Persoon van Jesus, juis Jesus se gelaatstrekke, te skilder toe het hy en 'n vriend van hom 'n uitval gehad.

   In sy ergerlikheid het die skilder vir sy vriend 'n paar baie onvriendelike en lelike dinge gesê. Hy het sy vriend selfs met wraak gedreig.

Hy het na die uitval, na sy werk, toe teruggegaan en wou voortgaan om Jesus se gesig te skilder. Hy kon egter nie vorder nie. Sy geesteswroeging het dit vir hom onmoontlik gemaak om die trekke van teerheid en liefde op Jesus se gesig na vore te bring.

Hy het opgestaan en sy vriend gaan opsoek en hom nederig om vergifnis gevra. In sy hart het kalmte gekom. Hy het teruggegaan na sy taak toe en nou kon hy die teer en sagte uitdrukking op Jesus se gesig aanbring.

   Ons as Christene in hierdie wêreld moet Jesus se Persoon, by wyse van ons daaglikse lewe en woorde van ons getuienis, na vore laat kom. Deur ons lewe moet ander Hom leer ken, en hiervoor is nodig, harte wat self vrede het.

Jesus se laaste woorde aan Sy dissipels was: "Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees..." Hand 1:8

Die Heilige Gees bring die Persoon van Jesus, as ons inwonende HERE in ons hart, in ons gedrag en gesindhede na vore.

As ons hart egter ontstig is deur allerlei dinge – rusies, geskille met ander, nydigheid, kwaai woorde, kwaadpraat – kan Jesus nie deur óns lewe aan ander oorgedra word nie. Dan leef ons met ‘n binding in ons gees.

Daardie binding sal eers aangespreek en verbreek moet word, voordat ons weer soos normale mense, veral Gelowiges, die pad verder sal kan stap.

“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, (hoekom?) sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

    Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die HERE sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.

Laat niemand 'n hoereerder wees nie, of 'n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.

Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.” Hebr 12:12-17 – Sjibbolet