Vrydag 22 April 2016

“Omdat ek slim was....”


Image result for ripe harvest


“Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes.
“En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees.
“Want hierin is die woord waar: Dit is een wat saai, en 'n ander wat maai.” Joh 4:35-37

“Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min.
“Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur.” Matt 9:37-38

'n Handelsreisiger in Engeland, genaamd Rigby, moes op sy gereelde kwartaallikse rondte deur sy streek 'n naweek in Edenburgh deurbring. Hy het dan in die Waverley Hotel, wat besonder gewild onder die handelsreisigers was, tuisgegaan.
Sondae het hy na St. George's se kerkdiens toe gegaan om na dr. Alexander Whyte, 'n kragtige Evangelieprediker, te luister. Rigby kon nie self preek nie en hy het moeilik met mense oor die Evangelie gepraat. Hy het egter altyd probeer om een van die ander handelsreisigers, wat ook in die hotel tuisgaan, saam te neem kerk toe.
Een keer het hy 'n ander reisiger genader om saam met hom te gaan. Die man het Rigby afgejak en wou eers nie saamgaan nie. Rigby het weer mooi gevra en oplaas het die man die oggenddiens saam met Rigby bygewoon.
Daardie Sondagoggend het dr. Whyte se preek die man diep getref. Later die dag het die man na Rigby gekom en gevra of Rigby nie saam met hom die aanddiens wou bywoon nie. Rigby het dadelik ingewillig.
Die mede-handelsreisiger is daardie aand gered. Rigby was so verheug dat hy vir die eerste keer in sy lewe die volgende oggend dr Whyte besoek het om hom van die reisiger se Wedergeboorte te vertel.
Whyte was verstom want, het hy vertel, vir hom was die aanddiens so dood dat hy eintlik depressief daaroor was.
Dr Whyte vra toe: “Hoe het jy weer gesê, wat is jou naam?” En Rigby herhaal sy naam.
            Dr Whyte het gesnak na sy asem en gesê: “Maar jy is die man wat ek al jare lank na soek.”
            Whyte het op sy lessenaar na dokumente gesoek en lees vir Rigby ‘n brief voor van iemand wat vertel hoe ene Rigby hom na ‘n diens toe genooi het en hy gered is.
            Whyte hou ‘n stel briewe in sy hand en sê: “Kyk, ek het 12 sulke briewe van mense wat jy na die dienste toe genooi het. Vier van die 12 het intussen predikante geword.”
Rigby het nie geweet van die omvang van die oes, wat gespruit het uit sy getrouheid om iemand met hom saam te neem om die Evangelie te hoor nie. Die Here se Koninkryk word van mens tot mens in hierdie wêreld voortgeplant.
Ds Dawie Pypers het altyd gesê: “Each one, Reach one.”
Geseënd is elkeen wat doelbewus die Evangeliesaad saai. Heel waarskynlik sal jy nooit eers hoor dat daar 'n oes was nie. Iemand anders sal dalk die maaier wees, van die oes waarvan jy die saaiwerk gedoen het. Sulke saad ontkiem egter elke keer want God sê self sy Woord sal nooit leeg terugkeer nie.
“Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes. En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die Ewige Lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees.”
            Komaan, begin om die Woord te saai, daar is baie maniere om dit te doen. Rigby se manier van saai, laat mens dink aan Paulus se wyse raad: “...omdat ek slim was, het ek julle met lis gevang.” 2 Kor 12:16 – Sjibbolet

As jy weet van iemand wat ‘n Bybel  opreg benodig en kan gebruik besoek www.thesower.org.za      
As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com      
Nog Beraders is landwyd beskikbaar.
Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA.
“En Ek sê vir julle: Elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook bely voor die Engele van God.” Luk 12:8 Stuur jou getuienis aan Tabernakel Bedieninge by belindapaar@gmail.com  Sien ook:
http://verhoogjesus.blogspot.co.za/2016/04/what-this-lifting-jesus-higher-is-all.html