Woensdag 20 April 2016

Red die pilare van die volk – Red die kinders


0 - 0 - 0 1 3410


Die TYD loop uit. Daar is reeds swaar tye oor die wêreld heen. Ter plaatse gaan dit ook nie goed nie. Daar is bv. reeds meer as 600 000 arm-blankes in plakkerskampe en miljoene in swart plakkerskampe. Die land sal vanjaar na verwagting minder as 1% groei toon.

Huwelike, die pilare van ‘n volk, verbrokkel teen ‘n tempo van twee uit elke drie huwelike. Christene se huwelike verbrokkel teen dieselfde tempo as die van ongelowiges. Die enigste oplossing geestelik, is terug na God, terug na die Huisaltaar.
Ons gaan mekaar in die toekomende tyd broodnodig kry,

Dink net... elke ding op hierdie aarde kan ons of net weggooi, of vervang of ‘n nuwe koop, maar aan TYD kan ons niks doen nie. Dit wag vir geen mens nie. Ons kan dit nie inhaal nie. Elke sekonde is verby... verby vir altyd. Egskeidings is wreed met honderde duisende kinders as die lydende party. Maar daar is hoop.

Die Barna Navorsingsgroep van Amerika het deur middel van ‘n peiling vasgestel dat huwelikspare wat saam bid toon ‘n egskeidingsyfer van slegs een uit elke duisend huwelike.
            Hierdie statistiek van gelowig egpare wat nie net tydens etes nie, maar gereeld saam Bybelstudies en gebedswake hou, demonstreer die krag van gebed.
            As ‘n volk se huwelike en gesinslewens verbrokkel, stort ‘n volk ineen. In Suid-Afrika verbrokkel huwelike al sedert die sewentiger jare teen ‘n tempo van een uit elke drie. Dié syfer het later verhoog na een uit elke twee. En nog is dit het einde niet!
            Pred 4: 9-10 bemoedig ons met die woorde: “Twee is beter as een, want hulle het ‘n goeie beloning vir hul moeitevolle arbeid, want, as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ‘n tweede is om hom op te tel.”
            Pred 4: 12 “En as iemand die een aanval, kan al twee hom teenstand bied; en ‘n driedubbele lyn, word nie gou verbreek nie.”
            By driedubbel word bedoel, jy en jou maat en God. ‘n Tou wat driedubbeld gevleg is, breek inderdaad nie maklik nie.
            So word ons aangemoedig om saam te bid. Die seëninge wat hierop volg sal vele kere vermenigvuldig wanneer ‘n egpaar met mekaar ‘n verbond sluit om gebedsvennote te word.
            Die nuttelose TYD wat by die TV verspil word, is vir ewig verby.
            Ons is veronderstel om mekaar te seën. Wat ‘n wonderlike belewenis sal dit nie wees as manne en vroue mekaar in gebed seën nie! Wanneer kinders hul ouers en ouers hul kinders gereeld seën nie!
            Wanneer egpare saam bid dan is daar nie plek vir onvergewensgesindheid en kwade gevoelens nie. Dan verander ‘n egpaar se fileo (menslike liefde) na agapé (Goddelike liefde) vir mekaar.
            Om saam te bid verdiep nie net die verhouding tussen man en vrou nie, maar ook hulle verhouding met God. Dan gaan Jak 4:8 in vervulling dat wanneer julle tot God nader, dan nader Hy tot julle.
            So leer ‘n egpaar die hart van God ken. So ontvang hulle wysheid,
antwoorde en vele seën.
            Natuurlik vervang die saambid nie ook jou persoonlike gebedslewe nie. Die twee is en bly aanvullend tot mekaar.
            ‘n Egpaar moet egter nie gedwing voel om saam te bid nie. Om saam te bid moet wees omdat elkeen ‘n beter verhouding vir hul gesin met God verlang. ‘n Egpaar is egter ‘n eenheid en hulle moet saam vir hulle gesin en ander in gebed intree.
            Egpare bid nie saam nie omdat hulle nooit hul ouers sien saambid het nie, of omdat hulle nog nooit daaraan gedink het om saam te bid nie, of omdat hulle meen hulle het nie die tyd daarvoor nie. Dalk het niemand dit nog ooit vir hulle voorgestel nie.
            As jou huwelik egter vir jou belangrik is, as jou maat vir jou belangrik is, as jou kinders en julle almal se welsyn en gesondheid vir jou belangrik is, as God vir jou belangrik is, begin dan vandag nog saambid.
            Met die wegspring kan dit dalk vreemd en wankelrig voel. Hou egter aan daarmee, dit sal al hoe beter en vreugdevoller verloop. Die behoefte om saam te bid sal toeneem.
            Die grootse seën wat julle daaruit gaan put gaan julle dwing om altyd saam te wil bid!
            Soms sal julle ‘n halfuur saambid, ander kere vir ure aanneem. Tree in vir verlore siele in die familie. Onthou, julle is gered omdat iemand vir julle ingetree het.
            Maak julle harte oop voor God, bid oor alles wat julle lewens affekteer. Bid vir mekaar, vir julle kinders en maak die naam van die HERE groot.
            Besluit wat julle van die HERE verlang. Bid in die geloof. Weier om te twyfel, want Jak 1:6-8 sê dat as jy twyfel moet jy nie verwag om iets van die HERE te ontvang nie.
            Vra God vir dit wat julle nodig het. Matt 7: 7-8 sê Hy sal beslis antwoord.
            Dalk sê jy ook, maar Matt 6:8 sê, die HERE weet wat ek gaan vra nog voordat ek bid, so waarom nog die moeite maak om te bid?
            As jy merk dat jou kind nuwe skoolskoene moet kry, moet dit dan nie koop voordat die kind self agterkom sy skoene is kapot en hy jou om nuwe skoene kom vra nie. Voordat hy jou vir nuwe skoene gaan vra, weet jy al geruime tyd hy gaan die een ander tyd vir nuwe skoene kom vra.
            As jy wag, totdat die kind self agterkom dat hy nuwe skoene moet kry en jy koop dit dan eers vir hom, dan sal hy ook waardering daarvoor hê en beter na sy skoene kyk.
            Glo dat julle ontvang want in Mark 11:23-24 sê die HERE hy sal beslis antwoord. Hy is en bly ‘n waarmaker van sy Woord. Ons kan hom deur en deur vertrou.
            Lees Skrif waar Hy sy beloftes bevestig. Onthou, die Nuwe Testament  is Sy testament wat Hy vir ons nagelaat het en daarom noem hy ons ook Sy erfgename. Sy Testament het net soveel krag soos wat julle testament het wanneer julle te sterwe kom.
            Niemand kan aan julle testament verander nie. Almal kan daaroor stryd en twis as hulle wil, maar hulle sal dit nie kan verander nie.
            Gee aan God lofprysinge soos in Fil 4:6. Bid altyd in die naam van Jesus Christus soos in Joh 16: 23-24. Ja, dit is sy Wil dat julle blydskap volkome moet wees!
            Stem saam in die gebed soos verlang in Matt 18: 18-20.
            Kyk in Deut 32:30 wat gebeur wanneer twee in gebed saamstem: Een persoon kan ‘n duisend van die vyand verslaan, en twee nie 2 000 nie, maar 10 000. Twee mense kan dus 10 000 keer meer uitrig as een mens.  Dit is hoe God se vermenigvuldende krag werk! Dit is presies dieselfde as wat Hy met die broodjies en die vissies gedoen het.
            Matt 18 sê ons moet soos kinders voor Sy aangesig wees. Hoekom?  Omdat ‘n kind alles glo wat sy Vader vir hom sê. ‘n Kind twyfel nie. Matt 18: 4 sê: “Elkeen wat hom verneder (nie verkleineer nie) soos hierdie kindjie, hy en sy is die grootste in die Koninkryk van die Hemele.
            Verenigde gebed het die tronkdeure in Hand 4:31 laat oopswaai en die plek was geskud en almal is met die Heilige Gees vervul.
            Ja, nooi later ander egpare ook by geleentheid oor om saam met julle te bid.  Ons as Wedergeborenes is God se volk. Dis vir ons, sy Bruid, wat Christus kom haal met sy Wederkoms.
            Die opdrag is: Dra mekaar se laste (Gal 6:2) en bid (Jak 5:16) vir mekaar! Seën mekaar! – Sjibbolet

As jy weet van iemand wat ‘n Bybel  opreg benodig en kan gebruik besoek www.thesower.org.za      
As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com        
Nog Beraders is landwyd beskikbaar.
“En Ek sê vir julle: Elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook bely voor die Engele van God.” Luk 12:8 Stuur jou getuienis aan Tabernakel bedieninge by belindapaar@gmail.com  Sien ook: http://verhoogjesus.blogspot.co.za/2016/04/what-this-lifting-jesus-higher-is-all.html