Vrydag 08 April 2016

Ons sal die situasie moet omkeer...


Image result for rsa flag

Ons toekoms is ons eie hande, so het ons grootgeword. Die Waarheid is, ons toekoms is in God se hande. Hierdie situasie sal reggestel moet word. Die eerste stap sal wees om te verootmoedig, ons te bekeer en weer (geestelike) laer te trek rondom die Troon van God en ons toekoms in Sy hande oor te gee.
     Dit is die nuwe vertrekpunt. Die boodskap uit die verlede vir vandag is: Terug na die GOD van Die Bybel!
     En ons kan dit doen want ons het seer sekerlik genoeg gehad en is tog seker moeg vir die lewe wat ons die afgelope jare gelei het, ‘n lewe wat uit net een lang afdraande pad van kritieke siklusse bestaan het.
            Die keuse is ons sin!
            Dit is hoe eenvoudig dit is: Die besluit is ons eie – wil ons wen, of wil aanhou verloor! Gal. 6: 7-10 stel elkeen van ons voor die ‘n keuse: Lewe of Verderf:

·       Moenie dwaal nie, GOD laat Hom nie bespot nie
·       Want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai
·       Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai!
·       Hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die Ewige Lewe maai

Die keuse is ons eie. Saai in die vlees – daardie dinge wat jou vernietig, jou vlees vernietig, soos ook om onwaardig by die Nagmaaltafel aan te sit. Dit vernietig ons huise, ons gemeenskappe en ons volk.
Daardie dinge wat ons weens oortuiging van die Gees, in ons diepste wese weet, is verkeerd, skadelik. Daardie dinge wat ‘n binding in ons gees veroorsaak sodat ons nie met GOD en almal rondom ons in die Lig kan wandel nie.
Die sinneloosheid wat ons aan onsself opdis met allerlei praatjies en verskonings, net om ons onreinhede te regverdig, terwyl ons goed weet, ons is met verkeerde dinge besig.
Die valse troos  wat onsself opdis: Maar ek dien mos die HERE, ek probeer my bes, almal is nie volmaak nie, ag, julle verstaan nie, ek is soos ek is en ek vind geen probleem daarmee nie.
Die keuse in jou eie: Kies vlees en jy sal voorwaar verderf maai. Jy gee jou eie vlees aan die verderf oor. Jy gee jou huisgesin en jou volk aan die verderf oor.
Die besluit is jou eie.
‘n Boer is tog baas op sy eie plaas. Hy kan saai wat hy wil. Hy kan dorings en distels saai, maar hy kan oor koring en mielies saai. Die keuse is sy eie.
God dwing weliswaar niemand nie, maar Hy laat Hom ook nie bespot nie. Moenie vir Hom probeer verskonings aanbied waarom jy nie dinge van die verderf kan of wil los nie. Jy sal Hom nie kan bluf nie.
Hy weet dat jy weet dat Hy weet, jou lewe is ‘n klug. Jy probeer aan Hom vertel dat soet en bitter water uit dieselfde fontein kan voortvloei, terwyl Hy juis daarop wys dat so iets onmoontlik is.
Kompromie is die sonde van ons tyd. God haat kompromieë. Kompromieë sê dit is verkeerd maar ek is darem op die goue middeweg. Kompromie is nie wit of swart nie, maar ‘n grys area.
Ons het die lewe van of goed of sleg verruil vir ‘n lewe van en-en – ons sal Christus en ook die wêreld dien. Ons volg wat ons noem, die “goue-middeweg”.
Helaas, ook die goue middeweg is veroordeel, want was jy maar koud of was jy maar warm, maar louwarm op die goue middeweg word jy uitgespuug – dis die goue helleweg.
Die besluit is jou eie, ons eie!
Saai uit die Gees en jy kies Lewe!

·       Laat ons nie moeg word om goed (en reg) te doen nie
·       Want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie
·       Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen
·       Veral aan die huisgenote van die geloof.

Volgens Gen. 8:22 sal saaityd en oestyd voortduur tot en met Sy Wederkoms. Dis ‘n Verbond wat ons met Hom het. Dit geld vir die landbouer, maar dit is ewe veel van toepassing op wat ons in die daaglikse lewe saai.
Ons moet nooit moed opgee oor die oes nie want God vergeet nooit van saad wat gesaai word  nie.
Die grootste leuenaar is misleiding. Dis ook God se eerste waarskuwing in die gelese gedeelte: Moenie dwaal nie!
Misleiding beteken dit wat ‘n valse indruk skep, of dit nou deur voorkoms of deur ‘n standpunt is.
            In die Tuin van Eden sien ons duidelik die valse indruk geskep deur ‘n standpunt. Die standpunt was vals, die indruk was vals.  Die uiteinde was verderf, soos ‘n hond wat na sy eie braaksel terugkeer!
            Misleiding is satan se magtigste wapen, daardeur het regerings al tot ‘n val gekom.
            Hy ag dit sy taak om jou wys te maak dat die goeie saad wat jy saai nie ‘n opbrengs sal lewer nie. Hy weet ook dat as jy vasstaan daarin dat wanneer jy uit die Gees saai, jy beslis die goeie sal maai, en ‘n ontsettende gevaar vir sy eie koninkryk word.
            Naas misleiding  is moegheid en gebrek aan uithouvermoë. Sy Woord is die lamp vir jou voet, sonder die lamp sal jy sekerlik moeg word. Die keuse is jou eie: Gaan jy die Lamp aangesteek hou of nie?
            Die Bybel is nie ‘n handleiding vir predikante nie, maar waarlik ‘n Lig vir die pad van elke Gelowige. Bybelstudies neem toe. Huisaltare word weer ingestel en ons mense bid weer soos hulle in baie jare nie gebid het nie.
            Gaan jy sorg dat jy genoeg olie in jou lamp het? Jy sê “ja, ek het genoeg olie,” maar intussen staan jou lamp onder ‘n maatemmer.
            As jy in Sy Woord bly, bly Hy in jou. As jy nie in Sy Woord bly nie, bly Hy nie in jou nie en uiteindelik maai jy verderf.
            In Jes. 40:28-31 sê God Hy word nie moeg of mat nie. Hy wil ook nie hê ons moet moeg of mat word nie, en belowe dan deur Sy groot genade en Liefde vir ons:
            “Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.
            Hy aanvaar heeltemal dat jy moedeloos kan word. Hy sê dan ook: die jonges word moeg en mat en die jongmanne struikel selfs, maar:
            Die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”
            Die besluit is jou eie!
            Saai in die vlees en jy eindig in die verderf, maar saai in die Gees en sou jy moeg en mat word, maar die wil openbaar om in Sy Woord te bly, dan neem Hy jou hand, Hy hef jou op, jy ontvang nuwe krag, jy hardloop selfs en word nie moeg nie.
            Let op na die oplossing: Diegene wat op die Here wag, neem Sy Woord en gaan wag op Hom.
            Hoe belangrik is dit vir jou om die goeie te kan oes? Wil jy werklik die goeie in die lewe en hierna oes? Wees dan op die uitkyk vir die rowers van misleiding, moeg- en matheid en sonde.
            Moenie met ander begin twis oor wat is sonde en wat nie. Die Here sê Hy het die werk in jou begin en Hy sal dit voleindig. Praat met Hòm daaroor. Moenie regverdiging vir jou verkeerde dade by vriende soek nie, die misleiding sal net vererger en jy het uiteindelik ‘n goeie verskoning:  Ja, niemand weet of dit reg of verkeerd is nie en totdat iemand dit nie kan bewys nie, gaan ek voort op my pad.
            So maklik is dit nie. God laat Hom nie bespot nie. Hy nooi jou ook om die saak met Hòm uit te maak, nie met iemand anders nie.
            Hy lewer weereens die teenprestasie in 1 Joh 1:9 wanneer Hy belowe:
            “As julle, julle sondes bely – Ek is getrou en regverdig om die sondes te vergewe (en nie net dit nie) en om julle van alle ongeregtighede te reinig.”
            Die besluit is jou eie?
            Lees maar Jer 5 en let op strofe 25: “Julle ongeregtighede het hierdie dinge afgeweer en julle sondes het die goeie van julle teruggehou.”
            Nou weet jy waarom dit met sommige Christene so goed en vooruitstrewend gaan, en waarom ander op krom kieries deur die lewe aansukkel.
            Die besluit is jou eie. Waarom sou jy so dwaas wees om die vleespad na die verderf  te bewandel, as jy daagliks in oorwinning kan lewe!
            Onthou: Die besluit is jou eie!
            Onthou ook: ‘n Besluit baar, murmurering lei tot niks.
            Niemand anders gaan vir jou besluit nie, niemand gaan jou dwing nie. Die besluit is jou eie!
            Desperate tye vereis desperate aksies. Die maat waarmee ons meet sal ons mee gemeet word. Die keuse is ons sin. Meet klein en die eindproduk is min.
            Die standaard wat ons kies om mee te meet is die standaard van wat ons ontvang. Ons herhaal: Wat ‘n mens saai dit sal jy maai.
            Die boer saai kant en wal en verwag 100% plus. Waarom saai ons so karig en verwag so min.
            Paulus sê in Fil. 3:14: “Maar een ding: Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry wat die hoë roeping van God in Christus Jesus.”
            Ons ken dié strofe goed, maar ons mis dat dit ‘n hoë roeping is!
            Paulus saai en hy maai en saai en hy jaag na die doel. Hy is vol, verwagting. Hy besef, mens wen nie die silwer nie, jy’t die goud verloor, en dit wil hy nie sien gebeur nie.
            Hy besef ook dis ons almal as kinders van God se roeping, se hoë roeping, om alles in te sit om die goud te verwerf.
            Hoop is die lewende krag waar my en my volk se drome en  begeertes ontwikkel word.
            Geloof is die lewende krag, wat my en my volk se drome en begeertes tot verwesenliking laat kom.
            Daarom bid ons, getuig ons – gebaseer op God se Woord – asof dit waarvoor ek vertrou, reeds bestaan.
            Omdat my lewende hoop en my lewende geloof aan die werk is, verwag ek seer sekerlik antwoorde.
            Onthou jy die nag by die visvangs? Jesus sê: “Vaar uit na die diep kant toe en gooi die net aan die anderkant van die skuit uit.”
            En toe die klaaglied: “Maar ons het die hele nag nog niks gevang nie.” Of dan: HERE, van 1994 af het ons nog niks gevang nie!
            Gehoorsaamheid laat die nette byna skeur van vis.
            As God dit vir die dissipels gewil het, dan wil hy dit mos vir al sy kinders want almal is gelyk voor Hom.
            Hoekom sou ons niks vang nie, of min vang, wanneer Hy verlang dat ons nette oorlopenstoe vol moet wees? Hy sê dan self dit is Sy Wil dat ons oorvloed sal hê!
            Maar daar is en bly voorwaardes aan alles verbonde. 1 Pet 4 vanaf strofe 7 lees:
            “En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter (hoekom?) om te kan bid!
            “Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê (hoekom?) want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek.
            “Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer… “ en lees maar self verder.
            Die ironie is dat sommige van ons verset ons teen die regering van die dag want ons is kwansuis  “God meer gehoorsaam as die mens.” Is ons!
Die waarheid is dat ons onsself meer gehoorsaam is as vir God! Ons pas streepteologie toe: Sekere opdragte van God gehoorsaam ons en ander nie. Om maar een voorbeeld te noem: Waarom het ons mekaar nie vurig lief nie?
Ander sê hulle onderhandel nie met die regering oor iets nie want hulle weier om legitimiteit aan die regering te verleen.
Nogtans verleen hulle ook nie aan God legitimiteit nie, want God se opdragte word nie uitgevoer nie, Sy insettinge word nie onderhou nie.
Watse soort Christene is ons nou eintlik – afkophoenders?  Is ons dit werd om Christene genoem te word?
Ons het geen verskonings nie. Ons kan nie die kerke of die predikante blameer nie, want God het gesorg dat ons elkeen ‘n Bybel in ons besit het – wat ons veronderstel is om te lees, te bestudeer, te bepeins, onsself mee te reinig – die Lamp vir ons pad!
Kom ons vertrou vir ‘n herlewing wat alle aanbiddingsplekke uit hul nate sal laat bars, ‘n geestelike golf groter as die grootste tsoenami.

As jy weet van iemand wat ‘n Bybel  opreg benodig, besoek www.thesower.org.za    
As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com
Beraders is ook in Durban en Bloemfontein beskikbaar.    
Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA  – Sjibbolet