Wys tans plasings met die etiket poort van die hel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket poort van die hel. Wys alle plasings

Dinsdag 19 Maart 2019

Die fondamente word omgegooi

Loof die HERE...
Die fondamente word omgegooi

Dat die mure omgegooi word is een ding, maar nou word die fondamente omgegooi. Die Koms van die Messias word verhaas, want die wêreld wil losbreek omdat hy sy eie wil op alles wil afdwing. God is in die pad.

            Wat Bybels verkeerd was, is nou skielik aanvaarbaar. Deur al die sonde te wettig, glo die wêreldleiers maak hulle alles reg.

            Aborsies word in meer en meer lande gewettig. Dwelmmiddels word gewettig. Prostitusie en pornografie, word gewettig, so ook word Godslastering (Nederland) gewettig.  Daar is nie meer vir God in die grondwet van menige lande plek nie, ook nie in die grondwet van die Europese parlement nie.

            Die mens en die Kerk is in die spervuur. Al is dit die tekens van die Eindtyd – dat die fondamente omgegooi word –  sit ek en jy met die hoop vir die toekoms in ons hande. Klou verbete vas, dit gaan nog rof word. “En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” Matt 10:22

Ons beleef nou die tyd waar gebeurtenisse mekaar snel opvolg. Ons is op die rand van ‘n magtige Herlewing. Saam daarmee gaan die poorte van die hel wyd oop. Staan vas!

Sosiale media het die nuwe Bybel en die nuwe koerant geword.  Niks gebeur iewers wat nie onmiddellik wêreldkundig is nie. Let op hoe word Christelike en Bybelse sieninge op Internet forums verniel.

Let op, hier kom boonop skeiding tussen die Ekklesia en die kerk, sterker gestel, tussen ware Geestelike Gelowiges en vormgodsdienstiges. Daar is geen plek vir huigelaars en geveinsdes nie. Soos wat dit ontvou is daar ‘n sterk toename in huisgemeentes.

Lukas beskryf dit so: “Hy sal sy dorsvloer (die kerk) deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur [die Wegraping van die Gelowiges] maar die kaf (die goddeloses in die groot verdrukking) met onuitbluslike vuur verbrand.” Luk 3:17

Ons leef duidelik in die laaste uur. Die wêreld oor steun al hoe meer predikers en Christenorganisasies die siening dat die Wegraping baie naby is. Die ware kerk kan nie langer net gehoor word nie, dit moet ook gesien word. Ons is vrygekoop, nie om te doen wat ons wil nie, maar wat ons moet... om die Evangelie en liefde van Jesus uit te dra en die Getal vol te maak.

Daar is kort-kort berigte oor Herlewings oral op die aarde, dog dit is telkens kortstondig.
       Dawid in Ps 11:3 vra indringend: “As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?”

Die fondamente van die huwelik, Christelike godsdiens, gesinslewens (die pilare van ‘n volk), taal, kultuur word aan flarde geruk met geen ontsag vir die Bybel en God drie-enig nie.

Ontsag vir gesagstrukture binne en buite die Kerk is haas denkbaar. Binne en buite die huwelik word alle morele standaarde vertrap. Kinder- en gesinsverwaarlosing neem sterk toe. Saambly het aanvaarbaar geword onder die vaandel dat hulle geestelik getroud is. Daar is haas nie ‘n selfoon sonder pornografie nie.

Die arme Dawid vra die vraag: Wat moet die regverdiges doen wanneer die fondamente padgee? Hy vra nadat hy in strofe 1 gesê het, om te vlug is nie die oplossing nie. Om te vlug is ongeloof, is twyfel. As jy moet skuil, skuil by God.

Ons het berusting daarin dat God alles weet. "U het dit gesien; want U aanskou moeite en verdriet". Ps 10:14. God sien die hartseer wat jou getref het, toe die fondamente in jou eie huis en samelewing tuimel.

“Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt.
       “Maar ons verwag volgens Sy belofte (en Hy is en bly ‘n waarmaker van sy Woord) nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.
       “Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.” 2 Pet 3:14
       Daar is oorloë in 69 lande van die wêreld. Altesame 818 militêre guerrilla groepe en terroriste organisasies is betrokke. Hulle tentakels strek ook reg deur Afrika.

Christene word ernstig en selfs wreed vervolg in 50 lande. Beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede. Die mees brutale geweld in menseheugenis is aan die gang.

Laat ons sorg dat ons klere sonder vlek of rimpel is, silwerskoon en laat ons met reikhalsende verlange uitsien na die Wegraping.

Dit alles, terwyl ons lofliedere tot die HERE sing:

“Halleluja! Loof God in sy heiligdom,

loof Hom in sy sterk uitspansel!

Loof Hom oor sy magtige dade,

loof Hom na die volheid van Sy grootheid!

Loof Hom met basuingeklank,

loof Hom met harp en siter;

loof Hom met tamboeryn en koordans,

loof Hom met snarespel en fluit;

loof Hom met helder simbale,

loof Hom met klinkende simbale!

Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!” Ps 150:1-6

Let op, die Wedergebore Jode kan nie aanbid sonder om te dans nie. Hulle jubel in die HERE:

https://video.search.yahoo.com/search/video?fr=yhs-invalid&p=messianic+jes+jews+worshipping+the+Lord#id=2&vid=6cafa0a59bcb7cc82b6769e895e0ae7b&action=click

In kort: Terwyl die fondamente omgegooi word, maak ons gereed vir die Wegraping en bring ons jubelend die laaste van die oes in. – Wekroep