Wys tans plasings met die etiket oop deure in jou lewe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket oop deure in jou lewe. Wys alle plasings

Vrydag 19 Julie 2019

Maak daai deur toe!



‘n Paar skoolseuns wat opgelei word om moontlik beroepsgholfspelers te word, was verlede week soos gewoonlik by hul sielkundige in Pretoria. Sy vra aan die 10-jarige uit die Karoo: “Wat is die eerste ding wat jy moet doen wanneer jy ‘n swak hou gespeel het?”

            En hy antwoord: “Ek maar daai deur toe!”

            As hy dit nie doen nie, pla daai fout hom so dat hy vir die res van die spel nie reg kan speel nie. Dit geld presies so in die lewe van die Gelowige. Watter fout jy ook al gemaak het of wie ook al iets teen jou gedoen het: Maak daai deur toe. Onmiddellik!

            Wanneer ons Wedergebore word, gebeur daar iets groots en besonders in ons lewens. Ons gees word onmiddellik getransformeer na ‘n nuwe Lewe... die Ewige Lewe.

            “Hoor die Woord van die HERE!  Want die HERE het ‘n regsaak  met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie.” Hosea: 4:1.

            As iemand in Christus is, is hy ‘n Nuwe Skepsel;  die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.  2 Kor. 5:17.

            En daarby die opdrag:  Word VERNUWE in julle GEMOED (DENKE)! Rom. 12:2. Hierdie vernuwing is dringend noodsaaklik en is ons sleutel tot ‘n oorvloedige geseënde toekoms.

            Dit is van kardinale belang dat ons die Woord moet ken. Die Woord is ons swaard waarmee ons terugslaan wanner negatiewe gedagtes ons wil oorval. Toe die satan dit met Jesus na sy lang vas probeer het, was Jesus gereed om met die Woord terug te slaan.

            Hoe wandel mens is die Gees. Deur die Woord te ken. Negatiewe gedagtes kan jou uitroei. Dit bring niks voor nie behalwe verderf. Jy wen niks daarby nie.

            Jy triomfeer egter wanneer jy die negatiewe met die positiewe Woord vervang. Mense sê so maklik: “Ek is bevrees”, of “Ek is bang...” Jy is nie veronderstel om ooit te vrees of bang te wees nie.

          Maar hoe, word ‘n mens vernuwe in jou gemoed, in jou denke? Dis iets wat ons moet doen...word vernuwe...

          Wedergeboorte en bekering vind saam plaas, en daarna voortgesette bekering. So word jy vernuwe – deur jou te reinig en op te bou deur middel van die Woord, Die Bybel – wat ‘n lamp is vir jou voet! Mediteer op die Woord, maak dit deel van jou hele menswees.

          En so doen mens dit. Bely onder meer gereeld die volgende strofes (voeg jou naam in by die vraagtekens):

          Een ding weet ek  (?) ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus!  Fil. 3:14.

          Ek (?) is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee.  Fil. 4:13.

          Immers, Sy Goddelike krag het my (?)  alles geskenk wat tot die lewe en Godsvrug dien, deur die kennis  van Hom wat my geroep het deur Sy heerlikheid en deug, waardeur Hy my die grootste en kosbaarste beloftes geskenk het, sodat ek daardeur ‘n deelgenoot  kan word van die Goddelike natuur, nadat ek die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.  2Pet. 1:3-4.

          Vir my (?) is die Koninkryk van God geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees.  Rom. 14:17.

          Ek (?) bid tot die Vader in Jesus se naam en ek ontvang sodat my blydskap volkome kan wees.  Joh. 16:23-24.

          Ek (?) weier om te twyfel, want dan kan ek nie eers iets van die Here ontvang as ek twyfel nie.  Jak. 1:7.

          Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na Sy grote barmhartigheid aan my (?) die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop (hoop soos in “future fact” en nie “I wish” nie) deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ek ‘n onverganklike en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die Hemele bewaar is vir my, wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.  Pet. 1:3-5.

           As ek (?) my sondes bely, is Hy getrou en regverdig om my die sondes te vergewe en my van alle ongeregtigheid te reinig. Joh. 1:9.

          Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferming en die God van alle vertroosting, wat vir my (?) troos in al my verdrukking, sodat ek diegene wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ekself deur God getroos word. 2 Kor. 3-4.

          Ek (?) het my vyande lief; ek seën diegene wat my vervloek, ek doen goed aan diegene wat my haat, en ek bid vir diegene wat my beledig en vervolg.  Matt. 5:44.

          In al hierdie dinge is ek (?) meer as ‘n oorwinnaar deur Hom wat my liefgehad het.  Want ek is versekerd dat geen dood of  lewe of Engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel my sal kan skei van die liefde van God wat daar in Jesus Christus, my Here is nie.  Rom. 8:37-39.

          In Hom lewe ek (?) , beweeg ek, is ek.  Hand. 17:28.

          As ek (?) vir hierdie berg (probleme) sê: Hef jou op en werp jou in die see — en nie in my hart twyfel nie, maar glo dat wat ek sê sal gebeur – sal ek verkry net wat ek sê.  Mark. 11:23.

          As ek (?) op die Here wag, kry ek nuwe krag;  ek vaar op met vleuels soos die arende;  ek hardloop en word nie moeg nie, ek wandel en word nie mat nie.  Jes. 40:31.

          Ek (?) werp my sorg op die Here, en Hy sal my onderhou;  Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.  Ps. 55:23.

          Ek (?) het die Here gesoek, en Hy het my geantwoord en uit al my vrees gered.  Ps. 34:5.

          Wanneer ek (?) bid, vergeef ek as ek iets teen iemand het.  Mark. 11:25.

          “Vrede laat Ek vir jou (?) na, My vrede gee Ek aan jou.  Laat jou hart nie ontsteld word en bang wees nie.” Joh. 14:27.

          Die dinge wat by die mens onmoontlik is, is by God moontlik.  Luk. 18:27.

          Gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees.  Ps. 51:12.

          Ek (?) gaan na Hom toe wanneer ek vermoeid en belas is, en Hy sal vir my rus gee.  Matt. 11:28.

          Ek (?) vertrou op die Here met my hele hart en steun nie op my eie insig nie.

          Hy het gekom dat ek (?) lewe en oorvloed kan hê.  Spr. 3:5;  Joh. 10:10.

          Ek (?) bely my misdade teenoor ander en bid vir ander, sodat ek gesond kan word.  Die vurige gebed van die regverdige het groot krag.  Jak. 5:16.

          As God vir my (?) is, wie kan teen my wees.  Rom. 8:31.

          Die Koninkryk van God is binne-in my (?) Luk. 17:21.

          God het my (?) nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.  2 Tim. 1:7.

          God sal my (?) lei deur Sy raad en my daarna in heerlikheid opneem.  Ps. 73:24.

          Ek (?) neem die volle wapenrusting van God op, sodat ek weerstand kan bied in die dag van onheil, nadat ek alles volbring het, staande kan bly.  Efes. 6:10-20.

            Om vernuwe te word in ‘n mens se gemoed, jou denke, gedagtes, beteken om kragtig te word in die HERE en in die krag van Sy sterkte. Efes 6:10-20. Verkeerde gedagtes kan vir ons ‘n ontsettende struikelblok wees. – Wekroep