Wys tans plasings met die etiket moenie val nie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket moenie val nie. Wys alle plasings

Vrydag 06 November 2020

Die Meester se meesterstuk! Het jy ook gestruikel... en selfs geval?

Hy sal die dowwe lamppit nie uitblus nie

“Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring.” Jes 42:3

            Geen volgeling van Jesus Christus moet dink dat dit vir hom of vir haar onmoontlik is om te struikel en selfs te val nie, selfs so ver dat hulle Christus verloën.

            1 Kor. 10:12 waarsku: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”

           Petrus had ‘n geleentheid wat nie een van ons ooit kan hê nie, hy het fisies, sy aan sy, met Jesus Christus gewandel. As iemand soos Petrus tot ‘n val kon kom, wan dan van ons?

            Baie Christene het deur die jare gestruikel. Ander het selfs geval. Sommige gaan darem nog kerk toe, maar is basies geestelik dood vanweë die groot seerkry. Hulle het gestruikel en het berou getoon en om vergifnis gevra, maar kan nie hulself vergewe nie.

            Wat dit veel erger maak, is wanneer mede-Christene iemand wat gestruikel het, nie wil vergewe nie, nie wil ophelp nie, nie vir hulle bid nie.

            Wanneer iemand struikel en selfs val, dan word mede-gelowiges ewe streng getoets. Verkeerde optredes teenoor die struikelendes en die gevallene, beteken jy het jou toets gedop.

            Ons is een familie, GOD se Volk, as een lid ly, ly die hele liggaam. Ons is veronderstel om vir mekaar te bid, mekaar se las te dra.

            GOD sê: “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh, 1:9

            GOD sê ook: “Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is.

            “Welgeluksalig is die man aan wie die HERE die sonde nie toereken nie.” Han. 4:7-8

            Wanneer ons, ons sondes bely sê GOD ook: “Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.” Heb. 8:12

            ‘n Spieëlbeeld van die lewe van Petrus gee ons die volgende insigte:


Petrus het gevloek en gesweer dat hy Jesus Christus nie ken nie.  Dit het hy gedoen nadat:

·       Hy magtig deur GOD gebruik was;

·       Hy wonderwerke, tekens en wonders aanskou het;

·       Sy naam in die Boek van die Lewe geskrywe was;

·       Hy siekes gesond gemaak en demone uitgedryf het;

·       Hy die Evangelie verkondig en siele vir die Koninkryk ingewin het.


Petrus is in ‘n strik gelei deur twee vroue en ‘n groep ongereddes:

·       Meeste mans se swakheid en val is deur vroue veroorsaak;

·       Baie mans het die HERE verloën omdat hulle nie situasies in hul eie huisgesinne kon hanteer nie;

·       Koning Dawid het geval  en ellende oor derduisende mense gebring, dog hy het ook herstel;

·       Baie jong Christene struikel en val omdat hulle toegee aan die eise van ongereddes.


Sommige mense dink Petrus het gesink toe hy (in eie krag) op die water na Jesus Christus probeer loop het:

·       Hy het bloot begin om te sink en toe na Jesus Christus uitgeroep en daarna na die boot teruggeloop;

·       Hy het meer as die ander dissipels gedoen, want hulle het nie eers probeer om op die water te loop nie;

·       Hy het ‘n nuwe begin gemaak, homself opgerig en weer probeer;

·       Hy het die aanbreek van ‘n nuwe geestelike dag aanskou na ‘n lang donker nag.


Petrus het ‘n spesiale uitnodiging ontvang, alhoewel hy:

·       Gevloek, gesweer en ontken het dat hy Jesus Christus ken;

·       Hy Jesus drie maal verloën het, en drie maal bely het;

·       Hy Jesus drie maal in die openbaar verloën en drie maal in die openbaar bely het;

·       Sy les geleer het deur ‘n lang donker nag deur te gaan;

·       Die opdrag gegee was om die HERE se skape te laat wei.

Petrus het besef Jesus Christus het steeds vertroue in hom, toe het hy:

·       Homself opgerig en bewys gelewer dat hy ‘n klippie kon wees;

·       Hy het homself vergewe, nadat Christus hom vergewe het;

·       Hy het nie homself aanhou verwyt oor wat gebeur het nie;

·       Hy het die verlede vergeet en hom uitgestrek na wat voor is;

·       Is daarna magtiglik deur GOD gebruik om duisende ander te help.


Veronderstel Petrus sou vandag in Suid-Afrika gelewe het, dan sou mense:

·       Nie weer vertroue in Petrus gehad het nie;

·       Petrus sou nie toegelaat word om weer te preek nie;

·       Hy sou beskinder gewees het;

·       Die media sou hulle in sy val verlustig het;

·       Sy kerk sou hom as predikant geskors het;

·       Baie sou altyd die voorval in herinnering roep;

·       Hulle sou sê hy het toegelaat dat ‘n vrou hom tot ‘n val gebring het;

·       Sommige sou hom uit die gemeenskap weg gewens het.


Na Petrus se herstel, het GOD steeds vertroue in hom gehad, en:

·       Word 3 000 siele op een dag gered;

·       ‘n Verlamde man spring op en loop;

·       Die Heilige Gees word uitgestort;

·       Selfs gewone mense kon sien dat GOD met Petrus wandel.


Petrus is deur die       godsdiensleiers opponeer. Hulle:

·       Het hom misverstaan omdat hy nie altyd ortodoks was nie;

·       Het hom bestempel as onkundig en ongeletterd;

·       Het hom vele kere aangekla en verhoor;

·       Hom gewaarsku om nie teen hulle tradisies te gaan nie;

·       Hom selfs gesensor, gegesel en in tronke opgesluit.


Alhoewel Petrus hierdie dinge moes verduur het:

·       Is hy met die krag van GOD gesalf  tot diensbaarheid en om ander na Jesus Christus te lei;

·       Mense het die strate vol gestaan met siek mense sodat Petrus hulle kon bearbei en genees;

·       Mense het besef al val Petrus se skaduwee net op hulle sal hulle genees;

·       Die tekens wat gevolg het, het almal laat besef dat GOD, Petrus vergewe het.


Soos wat Petrus onder die krag van GOD deur die strate beweeg het:

·       Was die krag van GOD aanwesig om die mense te genees;

·       Daar was nie eers geleentheid vir mense om oor siektes en pyne te praat nie of te verduidelik nie;

·       Die mense was so veelvuldig in getalle dat Petrus nie eers vir almal die hande kon oplê nie.

Christene wat die HERE Jesus Christus in ons tyd verloën het, het baie maal probeer om na die weë van GOD terug te keer, maar ons wou hulle nie vergewe nie, ons wou hulle nie toelaat om terug te keer nie – ten spyte daarvan dat God in sy Almag sê Hy het hulle sondes vergewe en hulle van alle ongeregtigheid gereinig.

Dis wat GOD gedoen het, maar ons wil dit nie doen nie! Wie is nou die groot sondaar, Petrus, of jy?

Die rede waarom sulke mense graag weer by die HERE wil uitkom, is omdat die Gees van GOD hulle dring om dit te doen, omdat GOD hulle vergewe het, omdat GOD steeds vertroue in hulle het, maar ons het nie. GOD gaan haal Sy verlore skape. Hy is ons Herder.

Wanneer ons na die lewe van Petrus kyk, besef ons, as ons berou het en bely, GOD ons graag terug in die kudde wil hê en ons boonop graag ook magtiglik wil gebruik.

En aan diegene wat diesulkes nie wil vergewe en nie wil terugneem in die kudde nie, en hulle voortdurend beskinder, spreek Gal. 6: 1 boekdele wanneer hy sê: 

“Broeders, as ‘n mens ewenwel deur die een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reg help met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself  let, dat jy nie ook versoek word nie.”

En dan die opdrag in strofe 7: “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus, want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself, maar laat elkeen sy werk op die proef stel; en dan sal hy grond van roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander een betref nie.”

En, na alles, is dit vir ons ook moontlik om daagliks geestelik saam met Jesus Christus te wandel.

Onthou, GOD wil van die klippies rotse maak!

           En jy gevallene, staan op, GOD wag vir jou! 

Hy sê vir jou soos Hy ook vir Josua in Sag. 3: 1,3,4 gesê het: “Ek wil jou oortredinge vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek!

            Kyk wat sê GOD in Jes 57:15 “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek (en waar ook?) en by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?), om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes. – Wekroep