Wys tans plasings met die etiket kerk is leeg. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket kerk is leeg. Wys alle plasings

Donderdag 16 April 2020

Die graf is leeg maar die kerke ook...


Die graf is leeg, maar die kerke is ook leeg. Die feit dat ‘n pes die hele aarde lamlê, is volgens Jesus een van die Eindtyd tekens kort voor Sy terugkeer.

            Die feit dat die graf oor die Paastyd leeg is, begryp ons, maar waarom is die kerke ook leeg. Skielik is almal uit hul kerklike gemaksone ontruk. Waarom?

            Want ons, Ek en jy, hoort nie daar nie, ons hoort in die oesveld. Ons moet die Getal vir die Messias se Koms volmaak.

            Dat ons soms onderlinge byeenkomste het, is goed en reg, maar die Messias is op pad en ons moet onsself gereed kry en met mag en mening in liefde uitreik na diegene wat nie gereed is nie.

            As die eerste Christene net vasgenael gebly het in hul kerke in Jerusalem en Israel, sou die Evangelie ons ander nooit bereik het nie.

            Let op “En wie is daar van julle wat 'n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel?

            “Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink?

            “Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie.

            “So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: (let op) Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” Luk 17:7-10

            Al kom jy moeg van die werk af, sê Jesus dat jy eers vir Hom moet bedien voordat jy jouself kan bedien. Ons is opdrag gegee om die Evangelie aan almal te bring. “Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.” 1 Kor 3:9

            “Wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” Luk 17:10

            Dit is absoluut noodsaaklik dat ‘n ieder en ‘n elk die volgende lees: Matt 25:31tot 25:46.

            Onder meer staan daar dat Jesus ons voor die Regterstoel sal toespreek en sal sê: “Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.

“Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: HERE, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?

“En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee?

“En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?

“En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Matt 25:45-50

Die predikante is die herders, die leraars wat die skape, vir my en jou, moet leer en voed sodat ons juis die uitreikingswerk kan doen. Herders kry nie lammers nie, skape kry lammers.

“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete (hoekom?), sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die HERE sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Hebr 12:15. – Wekroep