Wys tans plasings met die etiket gevorm in die moederskoot. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket gevorm in die moederskoot. Wys alle plasings

Woensdag 18 September 2019

Die Christen en Aborsie



“Ek roep vandag die Hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. KIES DIE LEWE, sodat jy en jou nageslag kan lewe.” Deut. 30:19, 20

Die mens kan nie ‘n spermsel of eiersel skep nie. Meng die twee selle kom ‘n lewende wese tot stand… alles deur God geskep. Daarom sê God tereg: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken.…” Jer 1:5

Die Bybel spreek nie spesifiek aborsie aan nie. Maar daar is verskeie leringe in die Skrif wat dit duidelik maak wat God se siening oor aborsie is, soos in Jer 1:5 dat Hy ons geken het nog voordat ons in ons moederskoot gevorm is. As jy deur God self geskep is, op watter gronde is daar regverdiging om jou dood te maak of te laat aanneem?

Ps 139:13-16 praat van God se aktiewe rol in ons skepping en formering in die moederskoot. Eks 21:22-25 beskryf die straf aan iemand wat veroorsaak dat ‘n vrou haar baba in moederskoot verloor. Die daad word gelykgestel aan moord. Dit dui duidelik aan dat God ‘n baba as ‘n volwaardige mens beskou in moederskoot.

Vir ‘n Christen is ‘n aborsie nie ‘n vrou se reg nie. Niemand het so ‘n reg nie. Dit is ‘n kwessie van lewe en dood van ‘n wese van God geskep het. Die eerste argument wat opkom teen die Christen se beskouing oor aborsie is, “wat van kwessies soos verkragting en bloedskande?”

Hoe afgryslik dit ook al mag klink, dit regverdig nie moord op ‘n baba nie. Die kind kan opgegee word vir aanneming aan liefdevolle ouers – of die kind kan grootgemaak word deur die moeder self. Streng gesproke moet die eie familie van die moeder help om so ‘n baba groot te maak. Die onskuldige kind durf nie gestraf word vir die euwel dade van sy/haar vader nie.

Die tweede argument teen Christene wat staan teen aborsie is, “wat as die moeder se lewe in gevaar is?” Dit is een van die moeilikste vrae met betrekking tot aborsie. Eerstens moet ons onthou dat hierdie vraagstuk slegs voorkom by een tiende van 1 persent van die aborsies wat wêreldwyd uitgevoer word. En waar dan is ons geloof in God om in te gryp!

Tweedens moet ons onthou dat God wonderwerke verrig. Hy kan die moeder en baba se lewe spaar ongeag die mediese diagnose teen hulle. Eventueel kan die vraagstuk slegs besluit word tussen die man, vrou en God.

Enige egpaar wat voor hierdie uiters moeilike situasie staan moet tot God bid vir wysheid wat Sy wil is.

Altesame 94% van die aborsies wat uitgevoer word in die wêreld is vir ander redes buiten die risiko wat ‘n swangerskap vir die moeder inhou. Die oorgrote meerderheid aborsies kan gekwalifiseer word onder “’n vrou en/of haar maat het besluit hulle wil nie die baba hê wat God deur hulle verwek het nie.”

Dit is absoluut ‘n euwel. Selfs in die moeilike 6% van gevalle moet aborsie nooit eerste oorweeg word nie. Vir diegene wat ‘n aborsie ondergaan het – die sonde van aborsie is nie minder onvergeeflik as ander sonde nie. Deur geloof in God kan enige sonde vergewe word. ‘n Vrou wat ‘n aborsie gehad het, of a man wat dit aangemoedig het, of self die dokter wat die aborsie uitgevoer het – almal kan vergewe word in geloof deur Jesus Christus.

Waarom is aborsie verkeerd? Aborsie is die vernietiging van die ongebore kind vóór die geboorte. Dit word op verskillende wyses gedoen. Dit mag deur ‘n operasie wees, of die moeder kan medisyne drink. Onwettige aborsies word soms gedoen deur mense sonder mediese opleiding. Dit is baie gevaarlik en lei dikwels tot die dood van die moeder. Gewoonlik word dit gedoen omdat die kind deur ontug verwek is en mense die skande wil wegsteek. Maar soms word dit binne die huwelik gedoen omdat die ouers die kind nie wil hê nie.

Oorsee het dit skrikwekkende afmetings aangeneem, en maak ware Christene beswaar teen landswette wat dit wettig maak.

Omdat die kind binne-in die moeder ‘n mens is... Mense wat aborsie goedkeur, sê die kind is eers later ‘n mens, lank ná bevrugting. Party sê so 20 weke ná bevrugting. Ander sê nee, vroeër, ander sê met die geboorte. Christen­geleerdes sê die beginpunt van ‘n mens se lewe is by die bevrugting. Aborsie is enige tyd ná bevrugting die vernietiging van ‘n mens se lewe.

Omdat aborsie moord is. Gen 9:6 en Eks 20:13 sluit aborsie in. As Christene moet ons na die Woord van God luister.  2 Tim 3:16-17

Omdat dit meestal ‘n sonde is waarmee ‘n vroeëre sonde bedek moet word. Die kind binne-in die moeder kan die gevolg wees van bloedskande of ontug, dit wil sê seks buite die huwelik. Nou word die kind doodgemaak. Dit kan nooit God se wil wees nie.

Vir jou wat die baba wil dood hê wag daar ‘n skokkende oomblik want jy kan die baba nooit doodmaak nie want nie een van ons kan ‘n siel doodmaak nie. Jou baba wag vir jou in die Hemel. Matt 10:28

Vir meer inligting oor Die Christen en Aborsie, gaan na: http://bedieningpvc.co.za/wat-ons-bedien/aborsie/