Wys tans plasings met die etiket afguns. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket afguns. Wys alle plasings

Vrydag 20 Mei 2016

Afguns maak jou ‘n vyand van God


Image result for jealousy


Afguns en jaloesie is gevoelens van onvergenoegdheid wat na vore kom as jy na ander se goeie kenmerke, hoedanighede of selfs besittings kyk, en die persoon se werk, sy talente, of sukses of besittings vir jouself begeer.
            Dis ’n baie gevaarlike situasie want dit lei tot onheil om ander uit die pad te kry, pleks van jou pad self eerlik en sonder afguns na bo te werk.
God haat afguns en jaloesie. Selfs predikante raak afgunstig die een op die ander weens die fenomenale groei in ‘n gemeente. Ragel was jaloers op Lea omdat sy kinders gehad het. Saul was jaloers op Dawid omdat vroue hom geloof het. Josef se broers was jaloers op hom as gevolg van sy drome.
In Han 13 het die Jode Paulus se prediking teengestaan, vanweë die uitsonderlike groot opkoms.
            Jy word ‘n vyand van God, want, “Die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Matt 25:40
            Dit wat jy selfs aan die geringste van God doen, doen jy aan God self. Onthou jy toe ons kinders was en iemand wil jou maatjie voeter, dan het jy voor jou maatjie ingespring en vir die aanvaller gesê: “Vat aan hom dan vat jy aan my.”
            Dis presies wat God sê: “Vat aan die geringste van My en jy vat aan My.”
            Let op: “Die HERE is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die HERE ongestraf bly nie. Sy weg is in warrelwind en in storm, en wolke is die stof van sy voete.” Nahum 1:3
Enigiets wat iemand anders het, veral as die iemand anders groot welslae behaal vanweë sy geloof, sy toegewydheid, sy talente, kan afguns by ander ontlok word. Straks is dit iemand se Intelligensie, sy spesialis opleiding, sy vernuf, sy talente, selfs sy geestelike insig, sy antwoorde op gebed, sy wysheid. Pleks van afguns behoort ons oor te loop van blydskap omdat ander presteer.
Pleks van afguns en jaloesie, moet ons die Koninklike Wet nakom.
Die liefde is ‘n Koninklike Wet. “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8
“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” Matt 5:17
Hoe het Jesus toe die Wet vervul?
Net voor Sy vertrek na die Hemel, vra die dissipels Hom: “Meester, wat is die groot gebod in die wet?
“En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
“Dit is die eerste en groot gebod.
“En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
En dan sê Jesus: “Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” Matt 22:36-40
Aan hierdie twee Liefdes-gebooie hang die HELE WET.
Hoe so? Want as jy waarlik liefhet, dan sal nooit enige wet oortree nie.
Die Skrif verwys telkemale daarna dat ons ander moet liefhê soos onsself.
Is dit moontlik om onsself lief te hê?
            Hierdie kan as ‘n meetinstrument beskou word: Hoe lief ek myself het, bepaal hoe lief ek ander het.
            Dit bepaal ook my geestelike stand in Christus.
Liv 19:18 “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.
            Liv 19:34 “Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself...”
            Matt 19:19 “Eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
            Matt 22:39 “En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
            Wat ons ook hieruit leer is dat dit belangrik vir ons is om te weet in watter mate ons onsself lief het.
            Jy moet jouself liefhê. Ontlok hierdie woorde ‘n negatiewe reaksie by jou? Klink dit nie selfsugtig en egoïsties nie?
            Om jouself lief te hê beteken nie om selfgesentreerd te wees nie. Dit beteken om respek vir jouself te hê, om jouself te beskerm, vir jouself om te gee.
            Kyk weer na Liv 19:18: “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.” Moet dus nooit ‘n wrok teenoor iemand hê nie, afgunstig op iemand wees nie... maar “hê jou naaste lief soos jouself.” Of het jy ‘n wrok teen jouself, of teen iemand anders?
            En moet nou nie in ‘n geredekawel vasval van “Wie is my naaste” nie. Jy weet tog dis jou huisgenote en diegene in jou daaglikse omgang.
            As jy dus nie vir jouself lief is nie, dan sal jy wraakgierig of haatdraend teenoor ander wees. Dit mag nie so wees nie, dan is daar fout met hoe lief jy jouself het. Is jy wraakgierig en haatdraend met jouself? Sommige mense is. Dit is al bewys dat as mens iemand haat, jy, en nie die ander persoon nie, die eintlike lydende party is.
            Is jy nou in die moeilikheid by die HERE? Stellig nie.  “Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is.” Dit is die sleutel: “Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie.” Rom. 4:7-8
            Noord en suid is sowat 19 200 km van mekaar af, maar die afstand tussen oos en wes, is onmeetbaar. Dis hoe ver die HERE jou sonde van jou af verwyder nadat Hy jou vergewe het.
            En wat moet jy doen wanneer ander afgunstig is op jou? Onthou deurentyd: God is aan jou kant. Sing dus lofliedere tot die Koning. Jy is op oorwinningsgrond.
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Hebr 12:12-13 – Sjibbolet

·       Bid sonder ophou en in afwagting vir die grootste Herlewing in SA se geskiedenis.