Wys tans plasings met die etiket Lew Wallace. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Lew Wallace. Wys alle plasings

Donderdag 31 Maart 2016

Ben Hur... Die storie agter die storie


Lew Wallace, ‘n prokureur, was een van die jongste Amerikaanse soldate om op 34-jarige ouderdom Generaal-majoor te word en het Jesus Christus as sy Verlosser aangeneem terwyl hy besig was om die roemryke verhaal Ben Hur e skryf.


Lew Wallace 1927 – 1905

            Hy was op ‘n treinrit saam met sy agnostiese vriend Kol. Robert Ingersoll, toe Ingersoll God en Jesus en die Hemel afgemaak het tot niks, dat hulle nie bestaan nie en dat duisende mense wat beweer dat hulle gelowiges is, almal fouteer.
            Wallace, ‘n geleerde man wat in ‘n Christenhuis grootgeword het, was na die treinrit baie vies homself dat hy nie, sy 49-jarige ouderdom te spyt, met Ingersoll kon redeneer nie juis omdat hyself niks van die Bybel af geweet het nie.
            Sedert sy kinderdae was Wallace gaande oor die verhaal van die Wyse Manne en hoe hulle in Jerusalem beland het. Dit het hom reg deur sy lewe gefassineer. Sy ma het hom die verhaal vertel. Verder het hy niks van die Bybel af geweet nie.
            Wallace het verskeie hoë posisies in die lewe en die staatsdiens beklee. Hy was ook ‘n militaris by uitstek en het vele veldslae tydens die oorlog gewen.
           Terug by die huis het hy besluit om ‘n boek te skryf oor die godsdienstige en politieke toestand van die wêreld en om daardeur te bewys dat die wêreld ‘n Verlosser nodig het. In daardie stadium het hy reeds verskeie boeke geskryf.
            Hy was nog besig om die boek te skryf toe hy na die vierde hoofstuk besef dat Jesus Christus net so ‘n persoon was soos Plato, Caesar en ander historici.
            Hy vertel: “Ek het myself die vraag gevra: As Hy 'n werklike persoon was (en daar was by my geen twyfel daaroor nie) was Hy dan nie ook Seun van God en die Verlosser van die wêreld nie?
“Een nag het die oortuiging sekerheid geword. Ek het op my knieë geval en vir die eerste keer in my lewe gebid. Ek het God gevra om Homself aan my te openbaar, my sondes te vergewe en my te help om 'n volgeling van Jesus Christus te word.
“Teen die oggend se kant het die lig van geloof in my hart deurgebreek. Ek het na my slaapkamer toe gegaan en vir my vrou vertel, ek het Jesus Christus, as my Here en Verlosser, aangeneem.”
Sy vrou was oorstelp van vreugde want sy het getrou vir die redding van haar man se siel gebid.
Dis toe dat Wallace besluit het om die boek Ben Hur te skryf en Jesus Christus daardeur te verheerlik.


Wallace het die grootste deel van Ben Hur onder hierdie boom geskryf.

            Mens onthou vir Paulus. Hy het vertel: “...wat my betref, ek het gemeen dat ek baie vyandige dinge teen die Naam van Jesus die Nasarener moes doen.
“Dit het ek ook in Jerusalem gedoen; en ek het baie van die heiliges in gevangenisse opgesluit, nadat ek van die owerpriesters volmag verkry het; en so dikwels as hulle omgebring is, het ek my toestemming gegee.
            “En in al die sinagoges het ek hulle dikwels gestraf en gedwing om te laster; en ek het uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg, selfs tot in die buitelandse stede.”
            Toe kom die keerpunt: “Toe ek dan daarvoor na Damaskus op reis was, met volmag en opdrag van die owerpriesters, het ek, o koning, in die middel van die dag op die pad 'n lig uit die Hemel gesien, sterker as die glans van die son, wat my en my reisgenote omstraal het.
            “En toe ons almal op die grond val, hoor ek 'n stem met my spreek en in die Hebreeuse taal sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.
            “Toe sê ek: ‘Wie is U, Here?’ En Hy sê: ‘Ek is Jesus wat jy vervolg.’ Hand 26:9-20
            Toe volg Saul se Wedergeboorte en word hy Paulus.
            Hy vertel: “... ek het eers aan die mense in Damaskus en in Jerusalem en in die hele land van Judea en aan die heidene verkondig dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God bekeer deur werke te doen wat by die bekering pas.”
            Die boek Ben Hur het die wêreld aangegryp. Op 29 November 1899 woon Wallace die opvoering van Ben Hur in Broadway by. Dit was so aangrypend dat dit oor ‘n tydperk van 21 jaar altesame 2 500 keer opgevoer is en elke keer met agt lewendige perde en twee koetse in die opvoering.
Dit was ook op plekke in Noord Amerika, in Europa, Australië en Nieu-Seeland opgevoer. Dis later ook verfilm.
Laat ons die Evangelie aan alle mense bring, tydig en ontydig.
As jy weet van iemand wat ‘n Bybel  opreg benodig en kan gebruik besoek www.thesower.org.za    
As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com
Ons het ook Beraders in Bloemfontein en Durban beskikbaar.  
Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA  – Sjibbolet