Wys tans plasings met die etiket Jesus liefde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jesus liefde. Wys alle plasings

Vrydag 27 September 2019

Wat sou jy gedoen het?



`n Boer in ­North Carolina ry op `n dag dorp toe met sy twee hooggeteelde perde voor sy duur en netjiese waentjie, skryf L. G. Broughton.

Hy hou voor die winkel stil, en wou net by die winkel instap, toe die perde losruk van skrik vir `n vreemde geraas. Hy spring dadelik voor hulle in en gryp die teuels.

Dat die boer nou reg voor die perde is en gebiedend met hulle prat, help net mooi niks. Verskrik hol die perde straataf. Die boer klou vir lewe en dood heel voor aan die teuels tussen die perde.

Uiteindelik stop die perde, klim met hulle voorpote in die lug en kom met ‘n slag op die boer neer wat intussen sy greep verloor het.

Mense storm uit en red die man se bloeiende liggaam onder die warboel uit. Dit lyk of hy gaan sterf. `n Vriend buig oor hom en vra:

“Hoekom het jy jou lewe gewaag en die perde nie hulle gang met die waentjie laat gaan nie?” “Gaan kyk in die waentjie,” fluister die man swak en totaal uitgeput.

Die vriend draai om en gaan kyk in die waentjie. Daar, op sagte strooi, lê die man se seuntjie en slaap. In stilte verstaan almal skielik die man se wanhopige poging om die perde tot bedaring te bring en die waentjie te behou.

In Jesus het God Homself opgeoffer om ons te red, omdat Hy ons liefgehad het. So verduidelik Jesus dit aan sy dissipels: “…want die Vader self het julle lief…Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld.” Joh.16:27-28

            En die strofe wat ons almal so goed ken met die verstand, maar dalk nog nie heeltemal met die hart verstaan nie, beskryf die groot liefde van God vir ons:

“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die Ewige Llewe sal hê.” Joh.3:16

Ons vertroue in die groot offer wat Jesus vir ons redding gebring het, maak ons kinders van God en so, soos die verhaal van die Verlore Seun dit aan ons verstand bring, word God se hart verbly en bevredig.

Hierdie boer het sy lewe gegee sodat sy seuntjie gered kon word. Wat doen jy om siele vir die Koninkryk te win? – Wekroep

Ons moenie aan onsself dink nie: ons moet aan ons naaste dink…wat vir…hom goed is. Rom 5: 1-6

Kyk na die hoë moordsyfers in SA. Al gewonder hoeveel van die vermoordes op plase en in strate geleentheid had om hulle saak met die HERE reg te maak?