Wys tans plasings met die etiket Jesus genees;Wedergeborene; beheer jou gedagtes. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jesus genees;Wedergeborene; beheer jou gedagtes. Wys alle plasings

Sondag 25 Januarie 2015

Skep tog net...


 


“Die raad in die hart van 'n man mag diep waters wees, 'n man van verstand sal dit tog uitskep.” Spr 20:5

Soms het mens vrae oor jou identiteit. Jy voel ja, jy behaal wel sukses maar jou blydskap is nie volkome nie. Jy ooreis jouself in ‘n poging om by die volkome vervulling van jou pogings uit te kom.

Jy is straks besig om jouself uit te brand omdat jou beroep jou nie pas nie. Dit voel straks vir jou jy beweeg op ompaaie om jou doelwitte te bereik. Daar is  doodloopstrate en soms boonop te veel doodloopstrate.

Die soort lewe maak mens moedeloos en is frustrerend. Dit kan so erg raak dat mens jou frustrasies op ander rondom jou begin uithaal.

Almal van ons begeer om by jou bestemming uit te kom, jou doel te vervul. Ons sal alles insit om dit te kan bereik. Jy is oortuig daarvan dat dit wat jy doen ‘n roeping is. Dalk is dit, maar ‘n roeping wat sonder vervulling is, laat mens huiwer tussen half vol en half leeg. Dit bring onsekerheid en groter frustrasie.

Die wyse Salomo sê: “Die raad in die hart van 'n man mag diep waters wees (maar), 'n man van verstand sal dit tog uitskep.”

Laat mens dink aan Rutherford Rogers, die bekend bibliotekaris en skrywer se spreuk: “Ons verdrink in inligting,terwyl ons smag na kennis.”

Die HERE sê vir Moses: “Kyk, Ek het Besáleël geseën met die Gees van God, met wysheid en verstand en kennis en bekwaamheid vir allerhande werk (hoekom?) om kunstige planne uit te dink, om dit uit te voer in goud en silwer en koper,  en deur snywerk in stene wat ingelê moet word, en deur houtsnywerk; om werksaam te wees in allerhande werk.

“En kyk, Ek het hom Ohóliab bygegee en in die hart van elkeen wat kunsvaardig is, het Ek wysheid gegee, dat hulle alles wat ek jou beveel het, kan maak...” Ex 31:1-6

Die bestemming waarheen ons op pad is, is ‘n reis, ‘n daaglikse belewenis, maar sonder God en die Heilige Gees kan dit nie slaag nie.

Die toekoms is saadjies wat ons elke dag saai. Wanneer die kaf verwyder is en die stof gaan lê, word die antwoorde baie eenvoudig. Dis die eenvoudige optredes wat die eenvoudige en groot dinge bereik. Ons begin die stem van die HERE hoor.

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.  Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang (hoekom?), sodat julle blydskap volkome kan wees.” Joh 16:23-24