Wys tans plasings met die etiket God is Gees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God is Gees. Wys alle plasings

Vrydag 10 April 2015

Moet ons God loof en aanbid?


Image result for people worshipping

Triomf deur lofliedere en aanbidding!
“Toe sê Jesus: Daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” Matt 4:120
            Dis ‘n opdrag van die HERE. Ons Moet... Nie net word dit vir die Gelowige aanbeveel nie, maar dis ook ‘n verwagting, ‘n opdrag. Om nie die HERE te aanbid nie, is om ongehoorsaam te wees aan sy opdrag.
            Dan die Aanbidding self: Om die HERE lief te hê, te bewonder, te vereer, dank aan Hom te bring, met die HERE te kommunikeer, Hom toe te sing, Hom te loof, te juig en verheug te wees oor Sy wonderdade.
            Ons aanbidding en lofprysinge is tot Sy voordeel en lof. Natuurlik baat ons ook daarby, maar dis meer vir Sy lof en glorie.
            Let weer op na die strofe: Eers aanbid en dan dien. Totdat ons geleer het om te aanbid, kan ons nie God met oorgawe en aanvaarding dien nie. Die HERE vra na:
“Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
            “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:23-24. Kan jy dit doen?
            Mens kan nie die HERE in die vlees aanbid nie. Dis daai leë blik wat die wind straataf rol.
            Wanneer ons in die Gees aanbid en lofprysinge bring, dan doen ons dit met volle oorgawe. Let op: Ons kom bymekaar. Die HERE is ook daar want Hy sê waar twee of drie in sy naam vergader is, daar is Hy.
            Die belangrikste persoon in ons samekoms is die HERE self... Ons groet almal en sê vir almal welkom... en die HERE? As ons in die gees is, sal ons Sy teenwoordigheid aanvoel. Vir sekere!
            Volgens Johannes is daar aanbidders en ware aanbidders. Die ware aanbidder, sê die HERE, aanbid Hom in Gees en in Waarheid (opregtheid). Joh 4:23
            Ons aanbid die HERE want: “Die HERE is groot en baie lofwaardig.” Ps 48:2
            Ons aanbid Hom oor Sy goedheid. “Want die HERE is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.” Ps 100:5
            Ons aanbid Hom omdat Hy dit waardig is. “U is waardig, o HERE, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag.”
            Luister: “Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam.” Ps 100:4 (Kom ons so die kerk binne? Is ons nie veronderstel om die byeenkoms so binne te kom nie?)
            Hou ‘n paar oomblikke stilte voordat met die sang begin word en bring eers aan God danksegging, danksegging uit jou hart en oor jou lippe. Verwelkom Hom in ons midde. Lofprysinge word deur danksegging voorafgegaan. Dank die HERE vir Sy goedheid en guns, sy liefde, sy genade, dank hom vir sy ryke seëninge en vir sy liefde.
Begin dan die HERE in lofliedere en selfs koordanse loof.
            Kyk, ons bring ‘n offer, ‘n lofoffer: “Laat ons dan gedurig deur Jesus aan God 'n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” Hebr 13:15
            Onder die wet het mense diere geoffer. Onder die Nuwe Verbond van genade bring ons lofoffers.
            Wil jy ook die wonder beleef om met God in ‘n geestelike Hemelse taal te kan praat... bring aan Hom lofliedere. Het jy al die wonder beleef wanneer ‘n paar honderd en selfs ‘n paar duisend Gelowiges elk in ‘n Hemelse taal lofliedere aan die HERE bring! Jy sal daarna nooit weer dieselfde mens wees nie, maar ‘n ware Pelgrimsreisiger op pad na die Nuwe Jerusalem.
            Om aan God lofliedere te bring is om dit te doen selfs al is alles rondom jou verkeerd. Paulus en Silas sit in die tronk bebloed en in pyn, sonder klere. Middernag begin hulle lofliedere sing en stap vry uit die gevangenis.
            En luister na Dawid: “My hart is gerus, o God, my hart is gerus; ek wil sing en psalmsing.” Ps 57:8
            En weer: “Here, my God, ek wil U loof met my hele hart en u Naam vir ewig eer.” Ps 86:12
            Hoekom wil Dawid dit doen: “Want u goedertierenheid is groot oor my, en U het my siel uit die doderyk diep daaronder gered.” Ps 86:13
            Dink net, die oomblik toe jy gered is, het jy die Ewige Lewe ontvang. Jy is nou in ‘n ander dimensie, jy het die Ewige Lewe! Dis mos al genoeg om jou dankbaarheid voor God uit te stort.
            “Loof, volke, onse God, en laat hoor die stem wat Hom roem – wat aan ons siel die lewe gee en nie toelaat dat ons voet wankel nie.” Ps 66:8-9
            Bring alle musiekinstrumente saam na die byeenkomste. “Juig voor die HERE, o ganse aarde, breek uit en psalmsing!
            “Loof Hom met basuingeklank, loof Hom met harp en siter; loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snarespel en fluit; loof Hom met helder simbale, loof Hom met klinkende simbale! Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!” Ps 150:3-6
            “Psalmsing tot eer van die HERE met die siter, met die siter en die stem van gesang, met trompette en basuingeklank; juig voor die aangesig van die Koning, die HERE!” Ps 98:4-6
            “En my tong sal u geregtigheid prys, u lof die hele dag deur.” Ps 35:28
            Die HERE het aan die mens die wysheid gegee om al die musiekinstrumente op die aarde te vervaardig om Hom mee te prys. Hoe wend jy jou musiekinstrument aan?
            Mens loof die HERE in woorde, maar ook met ‘n gejuig en gejubel: “Alle volke, klap met die hande; juig tot eer van God met 'n stem van gejubel!” Ps 47:2
            “Laat húlle jubel en bly wees wat 'n behae het in my geregtigheid.” Ps 35:27
            “Laat U priesters beklee wees met geregtigheid, en laat u gunsgenote jubel.” Ps 132:9
            En met sang: “Psalmsing tot eer van God, psalmsing! Psalmsing tot eer van ons Koning, psalmsing!” Ps 47:6
            “Hef aan 'n lied en laat die tamboeryn klink, die lieflike siter saam met die harp.” Ps 81:3
            “En Hy het 'n nuwe lied in my mond gegee, 'n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die HERE vertrou.” Ps 40:4
            “Halleluja! Sing tot eer van die HERE 'n nuwe lied, sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
            “Laat Israel hom verheug in sy Maker; laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning!
            “Laat hulle sy Naam loof in koordans, Hom psalmsing met tamboeryn en siter.” Ps 149;1-3
            Kyk wat doen lofprysinge nog: “Lofverheffinge van God is in hulle keel, en 'n tweesnydende swaard in hulle hand (hoekom?); om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke; om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie; om 'n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. 'n Eer is dit vir al sy gunsgenote! Halleluja!” 149: 6-9
“Juig tot eer van God, o ganse aarde! Besing die eer van sy Naam, maak heerlik sy lofsang!” Ps 66 1-2
            “Kom, laat ons jubel tot eer van die HERE, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil! Laat ons sy aangesig tegemoetgaan met lof, met lofsange Hom toejuig!” Ps 95:1-2
            Mense lag ook wanneer blydskap hulle oorval: “Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel; toe het hulle onder die heidene gesê: Die HERE het groot dinge aan hierdie mense gedoen.” Ps 126:2
            Ander klap die hande: “Alle volke, klap met die hande; juig tot eer van God met 'n stem van gejubel!” Ps 47:2
            Op die sport paviljoene spring mense hande in die lug van opgewondenheid. Ons loof die HERE ook met ons hande in die lug.
            “Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef.” Ps 63:5
            “En Esra het die HERE, die grote God, geloof, en die hele volk het geantwoord: Amen, amen! met opheffing van hulle hande; en hulle het hul gebuig en die HERE aanbid met die aangesig na die aarde toe.” Neh 8:7
            “Hef julle hande op na die heiligdom, en loof die HERE!” Ps 134:2
            “Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.” 1 Tim 2:8
            Dawid en ander en selfs vandag nog dans mense ook voor die HERE. “Loof Hom met tamboeryn en koordans.” Ps 150:4
            “En Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, het 'n tamboeryn in haar hand geneem; en al die vroue het uitgegaan agter haar aan, met tamboeryne en in koordanse.” Ex 15:20
            Die dans eindig wanneer die blydskap ophou: “Die vreugde van ons hart het opgehou, ons koordans het in treurigheid verander.” Klaag 5:15
Jeremia (31:13) sê die koordans hervat wanneer die vreugde terugkeer: “Dan sal die jonkvrou haar verheug in die koordans, ja, die jongmanne en die oues tesame; en Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap bring uit hulle kommer.”
            Dawid sê: “U het my weeklag vir my verander in 'n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord; sodat my eer U kan besing en nie swyg nie. HERE, my God, vir ewig sal ek U loof.” Ps 30:12
            Siel en gees: “En Maria het gesê: My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker.” Luk 1:46-47
            “Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!” Ps 103:1
            En selfs die vlees loof die HERE: “My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.” Ps 145:21
            Ons bely gedurig Sy naam: “Laat ons dan gedurig deur Jesus aan God 'n lofoffer bring, dit is... die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” Hebr 13:15
            Ons bring hierdie lofprysinge met selfs ‘n groter oorgawe as toe ons vroeër dit by die sportvelde en op skool gedoen het. Uitbundig... dis dié Jesus wat ons een van die dae kom haal. Ons sien uit na Sy koms!
            Die HERE woon in ons lofliedere: “Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel.” Ps 22:4
            Blydskap beskut ons: “Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE –  dit is julle beskutting.” Neh 8:11
            Triomf word voorafgegaan deur lofprysinge: Lees in 2 Kron 20 oor die ontsettende oorlog massas wat teen Josafat aan die opbou was en hoe hy die vyand met ‘n jubelende koor aandurf en wen. Waar het mens ooit gehoor dat iemand ‘n veldslag wen met sangers en lofprysinge!
            Ons stryd is ook nie teen vlees en bloed nie maar pleks van bind en bestraf en vervloek en uitdryf, probeer lofprysinge.
            Wil jy die wonder beleef om met God in ‘n geestelike Hemelse taal te praat... begin die HERE loof uit hart, siel en liggaam, in oorgawe. – Sjibbolet