Wys tans plasings met die etiket Gewillige gees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gewillige gees. Wys alle plasings

Maandag 07 Oktober 2019

‘Gee my weer die vreugde van U heil’



“Gee my weer die vreugde van U heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees.” Ps 51:14

            In 1895, skryf dr. Campbell Morgan – die Britse Evangelis wat sy eerste preek op 13-arige ouderdom gelewer het – besoek hy Douglas, in The Isle of Man. Na een van sy namiddag dienste kom `n jongmeisie en vertel hom, vier jaar te vore, het sy al haar vreugde verloor.

“Dank God!” antwoord Ca,pbell haar. In haar geskokte verbasing, vra sy: “Waarvoor?” “Omdat jy weet wanneer jy jou vreugde verloor het, want, as jy weet wanneer jy jou vreugde verloor het, dan weet jy hoe en waarom dit jou verlaat het.”


Hy antwoord: “Ek dink nie ek weet nie.” “Ja, jy weet. Jy is baie seker van die tyd; gaan nou vier jaar terug in jou lewe en vertel my wat gebeur het.” Sy laat haar kop hang en, skryf Morgan, ek was seker iets besonders het met haar gebeur. “Wat was dit?” vra hy.

“Ek en my beste vriendin het oor iets verskil. Ek wou haar dit vertel, maar sy het die land verlaat voor ek by haar kon kom.” “Wel, skryf vir haar en vertel haar jy was verkeerd. Ons Meester verwag dit van jou.”

“Ek kán dit nie doen nie,” antwoord sy beslis. “Wel, dan sal jy jou vreugde nie terugkry nie.” Sy het die hele reeks dienste bygewoon, vegtende teen God. Sy het die vreugde geken, van `n geseënde lewe, voorheen met God. Sy was nou in duisternis omdat sy nie wou teruggaan na die oorsaak van haar ongehoorsaamheid nie.


 Dr. Campbell Morgan

Campbell Morgan skryf: “Die volgende jaar het ek teruggegaan Douglas toe vir die jaarlikse reeks dienste. Die eerste persoon wat ek raakloop, is daardie jongmeisie. ‘Het jy die brief toe geskryf,’ vra ek,’ Haar hele gesig spreek van vreugde.

Sy antwoord: ‘Ek het dit gisteraand geskryf. Ek het die hele jaar teen God geveg. En heel verlede week, terwyl ek uitgesien het na die dienste, was ek in `n toestand van angs. Uiteindelik sê ek vir Hom: ‘O God, ek kan dit nie langer uithou nie. Ek gee in.’

En gisteraand skryf ek toe die brief en amper middernag loop ek posbus toe en pos die brief. Toe daardie brief in die gleuf afgly en ek hoor hoe land dit op die posbus se bodem, het die Hemel in my hart teruggekom. Dit is nou weer lig in my. God is naby.’”

Vir `n kind van die HERE, wat van iets verkeerds in sy of haar lewe weet, is daar nie ‘n ander weg na vrede toe nie, as om dit openlik vir die HERE te vertel. En as dit te doen het met ‘n ander persoon, moet die saak met daardie persoon opgeklaar word.

            Campbell het die meisie van wyse raad voorsien.

            Mens kan nie met so ‘n binding in jou gees floreer nie. Dit beroof jou van kosbare seëninge.

So het Dawid sy saak met die HERE reggemaak: “Verberg U aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.

“Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.

“Verwerp my nie van U aangesig nie en neem U Heilige Gees nie van my weg nie.

“Gee my weer die vreugde van U heil, en ondersteun my deur 'n gewillige gees.

“Ek wil die oortreders U weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.

“Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.

“HERE, open my lippe, dat my mond U lof kan verkondig.

“Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.

“Die offers van God is ‘n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” Ps 51:11-10 – Wekroep