Wys tans plasings met die etiket Die vyeboom. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Die vyeboom. Wys alle plasings

Maandag 22 Augustus 2016

Die Onvrugbares...


Image result for figtree 


In Luk 13:1-9 word vertel van ‘n man wat ‘n vyeboom had wat hy van alle plekke, in sy wingerd geplant het. Hy het vrugte daaraan gesoek en niks gevind nie. Toe sê hy: “Kap hom uit...”
         Ons lewe in die laaste uur en tyd loop snel uit. Oral praat Gelowiges van hoe snel die tyd verloop. Skaars was dit Maandag of dis weer Maandag.

         Die gelykenis oor die onvrugbare vyeboom, vervat vier gedagtes:


1.  Die beste versorging
2.  Die groot verwagting
3.  Die bittere teleurstelling
4.  Die regverdige oordeel

          ‘n Predikant vertel: Die middag voordat ek Wedergebore is, stap ek na die winkel op die hoek om sigarette te koop. Op pad hoor ek duidelik die stem aan my regterkant: “As ‘n wingerdstok nie vrug dra nie word hy uitgekap en in die vuur gegooi.” Ek het geweet dis die HERE wat praat, maar ek het gemaak of ek dit nie gehoor het nie.

Die beste versorging:
Die vyeboom was in ‘n wingerd geplant. Dit het dus op die beste plek gestaan. Die omgewerkte, vrugbare en skoon wingerdterrein, met die beste versorging het die boom veilig en beskut in die wingerd gestaan.
           Ek en jy, is ook in die vrugbaarste grond geplant. Ons word ook deur die herder in die gemeente goed versorg.
          Op godsdienstige gebied kan ons dit nie beter verlang nie. Boonop het ons elkeen ‘n Bybel, die Woord van die HERE om ons te lei, te dra en geestelik te bekragtig.
          Die boodskappe van die HERE het gereeld tot ons gekom, die vermanings, die roepstemme. Strome van lewende water het na ons gevloei. Ons was veilig in die wingerd, die gemeente, geskut. Ons is nie aan onsself oorgelaat nie, ons is versorg.
          As mens soveel moeite gedoen het met ‘n boom, ‘n Gelowige, dan verwag mens dat hy vrug sal dra.

Die groot Verwagting:
Die strofe in Lukas sê Hy (Jesus) het gekom en vrugte daaraan gesoek want dit is vanselfsprekend dat so ‘n goed versorgde boom vrugte sou dra.
          Wat vind Jesus as Hy vandag na jou sou kom? Aan die vyeboom het die eienaar vye verwag. In  my en jou lewe kom die Here vrugte van die Heilige Gees soek... “Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Gal 5:22
          Is hierdie vrugte by my en jou aanwesig? Begin met ‘n selfondersoek sodat die HERE tog vrugte by jou sal vind.

Die bittere Teleurstelling:
Die eienaar van die vyeboom het vrugte daaraan gesoek, maar niks gevind nie. Die teleurstelling was so groot dat die eienaar opdrag gegee het: “Kap hom uit!”
          Dit was reeds die derde jaar. Hoeveel jaar sit jy al in die gemeente sonder liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing? Het jy al een siel vir die Koninkryk ingewin?
          Ons lewe in ‘n tyd kort vir die Wederkoms. Watter vrugte vind Jesus by jou en my?” Sal Hy ook in ons teleurgesteld wees? Hoe lank staan ons nie al in die wingerd nie en ons stel elke jaar teleur.
          By sommige soek Hy al die afgelope 5 jaar, 10 jaar, 20 jaar en selfs langer na vrugte en steeds is daar niks.
          Was al Sy liefdesarbeid en troue Vadersorg dan verniet? Hinder dit ons nie wanneer gesing word: Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my HEER ontmoet, nie?
          Daar staan geskrywe: “Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

Die Regverdige Oordeel:
“Kap hom uit,” het die eienaar beveel. “Waarvoor maak hy die grond nog meer onvrugbaar. Wat kan ek meer vir hom gedoen het?”
          Beteken ons iets vir die HERE hier op aarde? Bou ons aan die Koninkryk? Lewe ons tot Sy welbehae, of tot Sy teleurstelling?
          Onthou wat Jesus gesê het: “Ek is die wynstok en julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrugte, want sonder my kan julle niks doen nie.”
          Wanneer jy op reis gaan, maak jy nie klaar daarvoor nie? Ons moet binnekort op reis gaan. Is jy gereed? – Sjibbolet