Wys tans plasings met die etiket Dae van Noag en Lot. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Dae van Noag en Lot. Wys alle plasings

Saterdag 06 Julie 2019

Die Dae van Noag en Lot

Jesus vertel oor die toestand van die wêreld net voordat Hy kom...

“En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het.”

Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: “Hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou.”

“Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die Hemel af gereën en almal vernietig.” Luk 17:26-29

Jesus het gesê dat dit so sal wees net voordat Hy kom, maar dit klink nie of daar juis iets verkeerd was nie. Die waarheid is, dat terwyl almal oënskynlik hulle eie gang gaan, was hulle blind vir die werklike gebeure.

            Wat die mens nie gesien het nie, het God gesien: “Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was... Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld.” Gen 6:5,11

            So raak die sonde in die wêreld al hoe gruweliker, maar die meerderheid mense en ook die kerke, gaan hul gewone gang asof niks verkeerd is nie. Dat 29 miljoen vroue en kinders in SA en wêreldwyd ontvoer is en as seksslawe verkoop is, raak skynbaar niemand nie.

            Dat die vervolging van Christene regoor die wêreld toeneem en al hoe meer suid in Afrika beweeg, pla ook glad nie, ook nie dat tussen nege en tien mense per dag in Kaapstad vermoor word nie, ook nie duisende onskuldige babas wat in aborsies sterf nie.  En so kan mens aangaan. Dink ook maar aan die plaasaanvalle en –moorde. Die lys is nogal lank.

            Hierdie verslegtende toestand heers wêreldwyd. Wet en orde bestaan haas nie meer nie en diegene wat dit moet toepas is nie opgewasse  nie of word vervolg.

            Sommige kerkleiers belowe aan lidmate wat sondig, dat die HERE se genade hulle sal oorsien, al hou hulle ook aan met die sondig. Die konsep van Heiligmaking is vir die meeste ‘n verlore boodskap.

            Oor dit alles sê Paulus: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons, ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” 2 Kor 7:1         

            Ons kan nie dat hierdie gruwelike sondes net aangaan nie, ons moet standpunt inneem in die naam van Jesus Christus, terwille van die Godsvolk en ons kinders.

            Daar is baie mense wat nie gered sal word en gereed sal wees vir Jesus se Koms nie, maar ek en jy moet die tyd uitkoop en siele wen en dissipels maak so ver ons kan.

            Mag God ons help om hierdie tyd van Noag en Lot te oorleef.

            Louwarm gemeentes, Christene en gemeenskappe sal nie triomfeer aan die einde van die tyd nie. Gemeentes wat tot wêreldse standaarde  gedaal het sal nie staande kan bly nie.

            Terwyl almal aangaan asof daar geen fout is nie, is die Groot Afval ook besig om in vervulling te gaan soos wat al hoe meer mense die kerke, die Bybel en God minag. 2 Thes 2:3-12 bevestig die Groot Afval.

            Ons leef in die tyd wat Jesus verduidelik het. Die enigste verskil is dat alles reeds by verre veel erger is as wat dit in die Bybelse tyd was. Jesus kan dus enige oomblik sy verskyning maak.

            As jy enige geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan ons by belindapaar@gmail.com – Wekroep