Wys tans plasings met die etiket Boek Daniel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Boek Daniel. Wys alle plasings

Dinsdag 04 Desember 2018

Die Skrif is weer aan die muur

Daniël, wat die eerste Eerste Minister van Persië (Iran) was, het nie net vir Koning Bélsasar die skrif aan die muur uitgelê nie. Daniël het ook die totale verloop en gebeure en tyd tot by Jesus se Wederkoms, vir ons uitgelê.

            As mens die Boek van Daniël tesame met Openbaring en die daaglikse nuusblaaie lees, weet jy presies waar ons in tyd beweeg… ook dat die einde op ons is.

Gaan wandel in Israel en veral in Jerusalem en vaar oor die See van Galilea en jou Bybel word skielik lewendig want jy stap presies waar Jesus, jou verlossor en Saligmaker, asook die dissipels, gestap het.

            En kyk hoe klein is die wêreld regtig. Die Iran wat Israel nou wil vernietig, was nou anderdag nog onder Daniël se bewind en Daniël is steeds deel van ons geskiedenis.

            Ons kyk na die aand toe Koning Bélsasar die armlose hand moes aanskou wat in Dan 5 sekere woorde op sy paleis se muur geskryf het.

            Toe die hand op die muur begin skyf het, is die hele fees  ontwrig, almal was verstom. Niemand kon dit lees ne. Vrees en angs was oral. Bélsasar se gelaatskleur het verander, sy gedagtes het hom verskrik, sy knieë het teen mekaar gekap.

            Hy het hardop uitgeroep om die besweerders, die Chaldeërs en die waarsêers en die wyse manne van Babel in te bring. Daar was geen uitleg nie, net groter verwarring.

En dis waar ons nou is: Mense in SA en wêreldwyd skarrel om oplossings te vind. Wat die mens gesaai het, is hy besig om te maai.

            Mense soek oplossings by die okkulte, by die astroloë, by die toordokters, voorvadergeeste, die sieners, die valse profete, die waarsêers… asseblief, vertel ons wat die toekoms inhou.

Vir die waarsegters word gesê: Kyk na die palm van my hand, kyk tog na die sterre. Roep die geeste op dat hulle kan help. Is dit goed of sleg? Onder watter ster is ek gebore, wat beteken dit? Wat is my teken? Dit gebeur onder politici maar ook onder van die mees gegoede mense in SA.

Ons is in ‘n oomblik van krisis en verwarring, en ons soek antwoorde by dieselfde mense as wat Bélsasar gesoek het. Maar net soos in die dae van Bélsasar, kan niemand lees nie. God is steeds op die Troon en ons wat aan Hom behoort, plaas ons volle vertroue in Hom en in Hom alleen.

            Wil jy weet wat gaan gebeur? Begin die Boek van Daniel en die Boek van Openbaring saam bestudeer en tussen die twee hou jy die oggendkoerant wat vroegdag by jou huis afgelewer word.

            Hou ook verwikkelinge rondom Jerusalem dop. Die Persië waarvan Danël Eerste Minister was, het in ons tyd in die hande van die Islam geval en Israel se grootste vyand geword. Iran grawe hom op die grense van Israel in en sê reguit: Hy wil Israel van die landkaart afvee. Eseg 38 en 39 vertel ons alles van die komende groot oorlog.

            Mense vlug te voet met vroue en kinders en selfs babas, oor die wêreld heen na hopelike beter vooruitsigte. Groot getalle sterf wanneer omdat oorlaaide bote op see ondergaan. Ander sterf in kruisvuur. Ander van siekte en hongersnood.

            Daar is oorloë in 68 lande van die wêreld. Altesame 812 militante en guerillagroepe, tesame met terroriste- en anargistegroepe voer die stryd. Die lande en die gevegstroepe neem steeds toe.

            Nasa sê die Aarde waggle op sy as weens klimaatsverandering, waarvoor die mens meesal verantwoordelik is, en droogtes. Wêreldkongresse word gereeld gehou en besluite geneem om die klimaat te herstel en niks word uitgevoer nie.

            Die see word geplunder. Sommige vissoorte is al uitgeroei of is na daaraan.

            Amerikaners het pas in ‘n peiling gesê hulle heg meer waarde aan geld as aan geloof.

            Die lys van vrees en angs Is lank. Die verwarring neem toe.

            Bélsasar is van die troon gestoot en sterf kort daarna.

            Daniël was destyds reg en hy is weer reg.

            “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.

            “Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die Nuwe Jerusalem…” Openb 3:11-12

            Luister na die Wekroep: Jesus kom, wees gereed! - Wekroep