Vrydag 21 Junie 2019

Glorieryke Herlewings



Herlewing in verskeie lande is sterk aan die toeneem. Gelowiges ter plaatse sal hulle oë op Jesus moet vestig in afwagting op die uitbreek van die Herlewing in SA.

          Sekere kenmerke van die Herlewing in ander lande bevat verskeie interessanthede.

          ‘n Sleutelvers is Jon 14:12 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo – die  werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter (meer) werke doen as dit...”

          Die beleid is: Ons is nie geroep om te oortuig nie, maar om té getuig.

          Pleks van preek, word Jesus  eerder  in aksie aan mense voorgestel.

          Hande word gelê op mense van alle rasse, tale en gelowe vir fisiese en of geestelike genesing en die wonderwerke laat die mense na Jesus as Verlosser gryp. Hulle word nie vertel van Jesus nie, maar fisies gewys wie Jesus is.

Diegene wat die wonderwerke belewe, begin ook sommer dadelik vir ander bid en lei hulle na die HERE.

          Getuienisse oor Goddelike gesigte, interaksie met Engele kom van oral. Mense kom in hulle duisende tot bekering. Geld om kostes te dek word nie eers oor gepraat nie, dit is eenvoudig net beskikbaar.

Tussen al die Herlewingsnuus deur belewe skrywer ‘n gesig: Ek ry kerk toe. Die kerk is op die een hoek van ‘n breë kruising. Daar aangekom vra ek: Maar waar is die kerk dan? Daar was geen teken van ‘n kerkgebou nie. Dit was laas naweek nog hier.

          Pleks daarvan staan daar honderde van die allermooiste bome en plantegroei. Dis ‘n begraafplaas... lowerryk, pragtig en netjies.

          En daar sit ek en verkyk my aan dit alles. Ek vra: HERE, en dit?

          Dis die einde van die kerkera. Jesus se Koms is naby en dit kan nie langer geduld word dat Sy volk in duisende kerkgenootskappe verdeel is, elkeen met sy eie  stel dogmatiese reëls nie. Praatjies soos “ek het my kerk” kom tot ‘n einde. Dit word vervang met “ek is die kerk!”

          Die aardsgebondenheid van Gelowiges word vernietig. Engele raak al hoe meer by Gelowiges se lewens betrokke.

          Maar waarom ‘n kerkhof wou ek weet? Dis die Gelowiges se “Eie Ek” wat daar begrawe word. Alle fantasieë verdwyn, alle eie opvattinge, alle eie oortuigings, alle weerstand, alle selfvoldaanheid, alle wanpersepsie, alle geheime en lidmaatskap aan geheime organisasies, alles wat nie tuishoort in die lewe van ‘n Jerusalem Pelgrim nie, verdwyn, so ook eie trots en windmakerigheid.

          Alles word vervang met liefde, omgee en nederigheid.

          Geen begrafniskar ry ooit die kerkhof binne nie. Gelowige begrawe self hul “Eie Ek” daar. Oral maak Gelowiges gereed om sonder vlek of rimpel Jesus se Koms af te wag.

          Geestelik verdwyn alle spoggerige haarstyle, kleredrag, spogmotors, spoghuise.  Gelowiges beweeg terug na eenvoud.

          Gelowiges sal nooit weer oor die duiwel praat nie, nooit weer belas raak met Skriflose uitsprake nie. Almal sal van Engele praat en geestelike boodskappe uitruil, mekaar bekragtig. Hier ontstaan ‘n Hemelse opgewondenheid soos wat almal na oorwinningsgrond beweeg. – Einde van die gesig.

          Dit is inderdaad ook wat nou in die Herlewings gebeur: Dogma, kerk en tradisie verval.

          Die mens staan naak voor God, gestroop van aardse gebondenheid. Saam met die Herlewing kom die reikhalsende verlange na Jesus se koms.

          Gelowiges in SA smag al lank na Herlewing. Oral is gebedgroepe aan die bid daarvoor. Dit gaan kom, vir seker. Hou moed. – Wekroep