Vrydag 14 Junie 2019

WATTER gebed vir jou?



“As die Evangelie wat ons verkondig, tog nog met ’n sluier bedek is, is dit bedek vir dié wat verlore gaan …wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is…”
Rom 4:4

            Dr. Wolcott Calkins, ’n Amerikaanse predikant, was in Suid-Frankryk toe hy gevra is om ’n landgenoot te besoek: ’n geboë, teruggetrokke, ouman. Na ’n paar algemene, vriendelike kennismaak woorde vra dr. Calkins hom: “Glo u in die Eewigheid?” Sonder om ’n oomblik te huiwer antwoord hy: “Ja, ek glo dit vas.” “Wat is u hoop vir die Ewigheid?” is dr. Calkins se volgende vraag.

Weer sonder huiwering kom die antwoord: “Ek hoop om Ewig gelukkig in die Hemel te wees.” “Sal u my vertel waarop u, u goeie hoop grond?”

“Dit doen ek graag,” kom die antwoord weer dadelik. “Ek het in my lewe niks gedoen wat sleg is nie. My klein foutjies, wat algemeen onder alle mense is, glo ek sal God oorsien. In alle ernstige dinge is my rekening skoon. Ek vertrou op ’n regverdige beloning vir ’n goeie lewe.”

Dr. Calkins was sprakeloos. Vertrouende in die werking van die Heilige Gees in die ouman se hart, probeer hy die onverdienstelikheid van ’n mens se eie goeie dade verduidelik. Hy vertel hom van die vrye gawe van God se vergifnis en die Ewige Lewe op grond van Christus se verdienste en offerdood aan die kruis. Hy kan sien dit maak geen indruk op die ouman nie.

Uiteindelik staan dr. Calkins op om te gaan. “Maar gaan u nie vir my ’n gebed doen nie?” wil die ouman verbaas weet.

“Wat kan ek bid?” vra dr. Calkins. “Die Fariseër se gebed: ‘O, God ek dank U dat ek goed is en nie so sleg soos ander nie,’ kán ek nie saam met u bid nie.

“Die tollenaar se gebed, ‘O, God, wees my sondaar genadig,’ wil ú nie saam met my bid nie.”

Die ou­man het dit nie verstaan nie. Op die ouman se verdere aandrang, doen dr. Calkins ’n kort gebed vir hom en vertrek. Kort daarna is die ouman oorlede.

            Terug in Amerika doen dr. Calkins moeite om die ouman se weduwee op te soek. Hy wou ook graag meer van die ouman te wete kom.

Uiteindelik neem een van die weduwee se broers dr. Calkins eenkant toe. “U het hom kort voor Sy dood besoek, waaroor ons dankbaar is, en u het reg om die waarheid oor hom te weet. Hy was ’n vervalser. Hy het juis Frankryk toe gevlug om aan die gereg te ontkom.”

Die onbekeerlike hart, verblind deur Satan, weier om Sy sondes raak te sien en dit te bely. Hy verwerp Christus se soenverdienste en roem in Sy eie goeie werke. Hy wíl nie voor God skuldig voel nie.

“God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld…Besef jy nie dat God jou deur Sy goedheid tot bekering wil lei nie? Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag…” Rom 2:4,5

Kom, maak vandag jou hart oop vir Sy lig, sodat jy jouself in Sy lig kan ken.” – Wekroep