Dinsdag 10 September 2019

Is jy sonder skuld?



'n Man is betrap dat hy steel. Destyds is jou hand summier afgekap wanneer jy gesteel het. In hierdie geval het die koning besluit dat die man gehang moet word.

            Op pad na die galg vertel die dief aan sy bewakers dat hy oor 'n wonderbaarlike geheim beskik en dit sou jammer wees as die geheim saam met hom sterf. Hy sou dit graag aan die koning openbaar wou maak as dit moontlik sou wees.

Hy weet hoe om 'n granaatpit in die aand te plant sodat die boom gedurende die nag groei en die volgende dag ryp vrugte dra; sy oorlede vader het hom dit geleer.

Die dief het toe voor die koning verskyn, wat instem om die geheim die volgende dag op die proef te stel in die aanwesigheid van sy ganse hofhouding. Net voor sononder die volgende dag vergader die koning en sy ganse hof in die tuin van die paleis.

Die dief grou 'n vlak gaatjie, haal 'n saadjie uit sy sak te voorskyn, en sê: "O Koning, hierdie saadjie durf slegs deur 'n man geplant word wat nog nooit iets gevat het wat hom nie toekom nie. Ek is 'n dief en durf dit daarom nie waag nie. Een van u onderdane sal dit moet doen".

Die dief wend hom tot die eerste minister. "Sal u dit plant asseblief?" Verskrik sê die minister dat hy in sy kinderdae iets gevat het wat hom nie toekom nie.

"Sal u dit plant?" vra die dief aan die leërowerste, maar dié het aan soveel veldtogte deel gehad en met soveel krygsgevangenes en verowerings te doen gehad, dat hy nie met sekerheid kon sê dat hy niks geneem het wat hom nie toekom nie.

            "Kan u dit miskien plant?" wend die dief hom tot die koning se boekhouer, maar hy het met die inskrywing van sulke groot geldbedrae te doen dat ook hy nie weet of hy nie dalk verkeerde inskrywings gemaak het nie.

            "O Koning, dan moet u dit plant!" sê die dief. Maar dit val die koning by dat hy 'n halssnoer van sy oorlede vader hom ten onregte toegeëien het.

            "U wat die magtiges van die land is, aan wie niks ontbreek nie, kan nie die saad plant nie. Ek, wat gesteel het uit honger, moet gehang word!" roep die dief.

Is dit vreemd dat die koning hom vrygelaat het?

            Wie is daar van ons, wat hierdie staaltjie gelees het wat bereid sou wees om die saadjie te plant?

            Die Genade en Liefde van die HERE God Jahweh is grensloos. Almal kan hulle sondes vergewe word wanneer hulle hul sondes bely en Jesus Christus as Saligmaker aanneem.

Doen dit onverwyld en verkry so die Ewige Lewe. Help ook ander om by Jesus uit te kom. – Wekroep