Vrydag 13 September 2019

Alles waarna jy soek is reeds joune!

Jy getuig jy is gered en jy dien die HERE en verder kom jy nie want jy leef nie in oorwinning en Hemelse vrede nie. Jou geestelike lewe is arm... en hier is die rede:

            Paulus sê, “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, wat ons geseën het met (let op) ALLE geestelike seëninge in die Hemele in Christus.”

Het jy gehoor? Lees dit hardop en nog harder: ”Ek is geseënd met ALLE geestelike seëninge in die Hemelse plekke.”

Gelowiges kom wel agter iets makeer in hul geestelike lewens, daarom koop hulle DVD’s, en boeke en boer hulle by spesiale geestelike saamtrekke opsoek na vervulling in Christus.

In die proses leer hulle wonderlike dinge, dog die jare loop aan maar hulle weet nie van die oop deur na die bonatuurlike blydskap wat vir hulle in Christus beskikbaar is nie.

            Meeste van ons ken ons posisie in Christus — dat ons met Hom in Hemelse plekke sit — maar net as ‘n akademiese feit. Ons ken dit nie as ‘n belewenis nie. So beroof ons onsself van heerlikheid en glorie!

            Sommige sê: “Ek voel nooit of ek in ‘n Hemelse plek is nie. Ek voel altyd of ek in ‘n wildernis is en verdrukking en beproewing ly. Nee, ek verstaan dit nie”

“In Christus in die Hemele...” Efés 1:3 is nie iets wat jy kan bereik nie. Dis gratis aan jou gegee. Kyk wat het die verlore seun nie alles gekry toe hy tuisgekom het nie. Alles gratis. Dis presies wat met ons gebeur het. Wanneer ons in Christus is, dan sit ons volgens die Vader, naby Hom.

Hy kom af na jou toe. Christus die Seun en God die Vader het in jou hart ingekom en hulle woning daar gemaak: “As iemand My liefhet, sal hy my Woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” Joh 14:23

            Let op, dit word al hoe wonderliker: “En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom (let op) openbaar.” Joh 14:21

En nog wonderliker: “En Ek het hulle die heerlikheid (glorie) gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees.” Joh 17:21–23

            Wanneer iemand iets aan jou gee, moet jy dit ontvang en baie dankie sê. Het jy al Jesus se glorie (heerlikheid) ontvang en dankie gesê?. Dis die geheim. Soos wat die HERE Sy wil aan ons openbaar, moet ons dit ontvang en dankie sê. So word dit joune.

“Laat ons dan met vrymoedigheid na die Troon van die Genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” Hebr 4:16

            Petrus neem ons verder in hierdie heerlikheid en godsvrug in: “Immers, sy goddelike krag het ons (let op ALLES geskenk wat tot die LEWE en GODSVRUG dien, (hoe?) deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, (hoekom?) sodat julle daardeur deelgenote kan word van die (let op) goddelike natuur (wanneer?), nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.

            “En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug (Sedelik goeie eienskappe 2. Neiging om die goeie te doen 3. Geskiktheid, bruikbaarheid. liewe deug! uitroep van verwondering. 4.

Goed wees vir een of ander doel; in orde wees), en by die deug die kennis (Skrifkennis), en by die kennis die selfbeheersing (beheer jou gemoedstoestande), en by die selfbeheersing die  lydsaamheid (verdraagsaam, berustend), en by die lydsaamheid die godsvrug (vroomheid, Godvresend, vrugte dra wat by die bekering pas), en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.

Let nou op waarom al hierdie glorie en Godsvrug nodig is: “Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en (let op) toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie; want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.” 2 Pet 1:3-9

            Aanvaar hierdie asemrowende geskenke en loof die HERE daarvoor. Dit is hoe jy dit in jou lewe aktiveer... deur te aanvaar en jou eie te maak. Ons leef in die laaste uur en ons kort die dieper lewe in Christus. – Wekroep