Donderdag 08 November 2018

Liefde


Liefde…



Die liefde word nie op ons afgedwing nie, al maak ons ook die mooiste beloftes by ons troues. Liefde is soos ‘n pragtige blomtuin wat gereeld geskoffel moet word om die onkruid uit te hou.

So lyk die Liefde:


“Die liefde is geduldig,

die liefde is vriendelik;

dit is nie afgunstig nie,

is nie grootpraterig nie,

is nie verwaand nie.

Dit handel nie onwelvoeglik nie,

soek nie sy eie belang nie,

is nie liggeraak nie,

hou nie boek van die kwaad nie.

Dit verbly hom nie oor onreg nie,

maar verheug hom oor die waarheid.

Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” 1 Kor 13:4-7

            On sweet almal, dis veel makliker gesê as gedaan?

            Wat hier staan, vertel van ʼn liefde wat skaars oorleef.  1 Kor 13 beskryf ‘n liefde wat alles in die stryd moet werp om in ʼn oorlog staande te bly.

            Wanneer is jy geduldig?  As iemand jou teister, en jy jou moet inhou.

            Wanneer is jy vriendelik?  As die ander ou afgunstig, grootpraterig en verwaand is.

            Hoekom weerhou jy jou van onwelvoeglikheid?  Oor dit lelik is?  Nee, oor jy iemand nie wil vervreem nie.

            Om dieselfde rede soek jy ook nie jou eie belang nie, maar is jy meer bedag op wat vir ander goed sal wees.

            Net so is jy meer as net effens dikvellig, en nie so vreeslik liggeraak nie.  Sodat jy nie sommer aan elke ou kleinigheidjie aanstoot neem nie, en gekrenk sal voel oor jou waardigheid nou weer aangetas is nie.

            Jy reken ook nie die skade wat ander jou aandoen nie, want jy gaan nie later wraak neem en vergoeding eis nie.

            Oor die onreg wat jou vyand oorkom, verlekker jy jou nie. Jy word net oor die waarheid bly, dit wil sê as wat jou vyand oorgekom het, hom tot ander insigte gebring het.  Insig in die waarheid versoen en verenig julle weer met mekaar: aartsvyande kan boesemvriende raak.

            Liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

            1 Kor 13 is die verhaal van liefde wat wil oorleef, en wil keer dat die sonde dit verniel. Hierdie is ʼn liefde wat wil uithou en aanhou.  So lyk liefde wat end-uit met jou die pad wil loop.

            Het jy dit al?  Het iemand jou al so liefgehad?  En jy vir iemand anders?

            Liefde is nie naïef nie.  Dit skram ook nie van die werklikheid weg nie.  Dit kyk die foute en sonde vierkantig in die oë.

            Die statistieke spreek vanself.  Huwelike hou nie.  Want die liefde is ʼn volgehoue geveg teen eiebelang, en ander se kwaad (waarvan jy nie mag boekhou nie).

Weet jy wat dit van jou verg om alles wat julle mekaar aandoen, agter julle te sit – te bedek – en oor te begin en aan te gaan asof dit nie gebeur het nie? Het jy ʼn idee van wat dit vat om alles te bly glo wat iemand jou alweer hart en mond belowe terwyl jy sukkel om saam te leef met al die vergete en mislukte goeie voornemens van die verlede?  Hoe kry mens weer hoop as alles waarvan jy gedroom het, verydel is?

            Hoe hou die liefde dit?

            Hoe hou jy dit met liefde?

            As jy die liefde wil laat oorleef, moet jy nou besluit:  niks anders kom daarby nie.  Niks is so belangrik soos die liefde nie,  nie jou beroep nie, nie jou geld en jou goed nie, nie jou ideale, jou vriende of familie, jou sport of jou vakansies of, wel, trouens enigiets waaraan jy kan dink, verdien soveel van jou aandag as jou liefde nie.

Fokus daarop. Want verloor jy dit, verloor jy iedergeval al die ander goed daarmee saam.  En verlore gaan sal dit, as jy nie keer nie, as jy die liefde nie vertroetel nie.

            En dan kom jy agter hoekom jy voluit op die liefde moes fokus, en jy juis so aan die liefde moes gestalte gee: Ons weet nou al dat van alles wat in die lewe belangrik is, die liefde belangriker is.   Maar het jy geweet dat, van alles wat in die lewe gebeur, dit net die liefde is wat end-uit bly?

            Let op: 1 Kor 13:8 “Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak.”

            Selfs die heiligste goed, die heel kosbaarste van die godsdienstige praktyke, kan verdwyn en hou op en raak uitgedien.  Maar die liefde moet hou.  Dis die bloed wat lewe gee.  Dis die gom wat klou.

            En 1 Kor 13:9 “En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!

            1 Kor 13 gaan oor liefde in die spervuur.  Oor liefde in die moeilikheid. Dis liefde wat hom teësit teen die magte van die duisternis, wat wal gooi, wat keer.  Dis liefde wat vas van plan is om elke beproewing te oorleef.  Dis nie sentimentele liefde hierdie nie. Dis liefde op die oorlogspad. Dis liefde in die hitte van die stryd, wat veg om te oorleef. Dis liefde wat baklei om bo uit te kom, en niks sal ontsien om te wen nie. Dis strydende liefde hierdie.

Werkende liefde. Liefde wat teen sonde die rug krom maak. Liefde wat ly, liefde wat swaarkry.  Liefde wat weerstand bied teen ondergang en walgooi teen oorweldig te word.  Liefde wat aanhou en wil staande bly al kom die hel van alle kante op hom af.

            Het ons al aan sulke liefde gestalte kon gee?  Was dit al ooit ons voorneme? Wat dan, het van die liefde geword?  Waar’s dit heen?

            Ons het op die harde manier geleer nie alles hang af van goeie voornemens nie.  Goeie voornemens word nooit in stand gehou nie. Dis God wat in liefde die deurslag gee.  Dis die liefde wat jy kry as God se genade in berekening gebring word, wat jy hier in 1 Kor 13 kry.  Om sulke liefde te kon beleef, is te danke aan die genade van God.  Dit moet dadelik duidelik wees dat ons in hierdie wêreld nog net een keer sulke liefde van naderby beleef het:  in die lewe en dood en lewe van Jesus Christus.

            Dis asof ons ander al daarvan gehoor praat het, maar eerstehandse ondervinding het ons nie. Die liefdesvuur bly brand waar paartjies saam bid en die man sy rol as Hoë Priester van sy huis aanvaar.

            God skryf julle lewensboek en hy is nog lank nie klaar nie. Moet ook nie die pen uit sy hand neem en julle verhaal self probeer klaarskryf nie.

            Seksuele (eros) liefde en menslike (fileo) liefde. lan nooit slag nie. Tydens berading kom dit sterk na vore.

            Wat wel slaag is Goddelike (Agape) liefde. Maak seker voor julle trou, watter liefde die botoon voer.

            Sy genade het goed genoeg in julle gewerk om die afgelope jaar se bietjies liefde moontlik te maak.  God is in julle aan die werk. Julle beleef sy liefde nou, en sy liefde sal nie afkoel of ophou nie. Julle kan op sy liefde wat nooit te min is nie reken, liefde wat geen vervaldatum het nie, maar met Kersfees weer afskop om ons lewe hier saam moontlik te maak.

            “As julle ewenwel die Koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself -- dan doen julle goed.” Jak 2:8

            Eerste vraag is: Hoe lief het jy jouself?

Kyk wat sê,Jesus: “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. (So moet ons ook bly in die Belofte wat ons aan Hom en aan mekaar gemaak het).

            (Hoe kry ons dit reg?) “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.

            (Hoekom?) “Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.

            “Dit is my gebod (Jak 2:8), dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het” Joh
15:0-12