Woensdag 11 Maart 2015

Wanneer die Vyeboom bot.


       Ns Hierdie skrywe moet saamgelees word met die opvolg hiervan:  Wie is Israel?
Ons lees van drie vyebome in die Nuwe Testament. Twee het geen vrug gedra nie. Die derde een dra blare en vrug.
            Die vyeboom in Luk 13:6-9 se verhaal lees so: “‘n Man het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie.
            “Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar?
            “Maar hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het.
            “As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap.”         Die onvrugbare boom was ‘n teken van die destydse Huis van Juda. Hierdie vyeboom het geen vrugte gedra nie. “Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.” Matt 21:43
            En die tweede vyeboom? Dié kan met die eerste vyeboom vergelyk word – dit was ook ‘n simbool van die onvrugbare Huis van Juda.
            Alhoewel die Huis van Juda in ‘n verbondsverhouding met God was, was die voorkoms bedrieglik, want hierdie volk was sonder enige vrug. Hulle het selfs die seun van God, Jesus Christus verwerp.
            Hulle gebrek aan geloof, was juis die ware kwaliteit van die oomblik wat Jesus die soeklig op laat val het.
            Oor die tweede vyeboom sê die Skrif: “En die volgende dag, onderwyl hulle uit Betánië gaan, het Hy honger gehad; en toe Hy op ‘n afstand ‘n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie.
            “Jesus spreek en sê vir hom: Laat niemand ooit in der ewigheid van jou ‘n vrug (jou destydse Huis van Juda tradisionele ongelowige vrugte) eet nie! En sy dissipels het dit gehoor. (En Jesus begin dadelik om van die tradisionele Joodse dinge ontslae te raak toe hy net daarna in Jerusalem kom).
            “En hulle het in Jerusalem gekom; en toe Jesus in die tempel ingaan, begin Hy om die wat in die tempel verkoop en koop, uit te jaag; en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi; en Hy het niemand toegelaat om enige voorwerp deur die tempel te dra nie.
            “En Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe: My huis moet ‘n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit ‘n rowerspelonk gemaak.
            “En die skrifgeleerdes en die owerpriesters het dit gehoor en gesoek hoe hulle Hom kon ombring; want hulle was bang vir Hom, omdat die hele skare verslae was oor sy leer.” Markus 11:12-18
            Deur die vyeboom te vervloek het Jesus Christus grafies gedemonstreer wat die einde van ‘n vrugtelose geloofslose volk sou wees.
            Die aanwesigheid van ‘n vyeboom vol vrugte was beskou as ‘n simbool van ryke seëninge en vooruitgang vir die volk. So ook die teenoorgestelde... die gebrek aan vrugte simboliseer oordeel en verwerping.
`          Simbolies het die vyeboom die geestelike doodsheid van die volk weens hulle sonde weerspieël. Deur die Tempel skoon te maak en die vyeboom te vervloek, het die einde van die ou dispensasie aangedui.
            Dit wys ook op die beginsel dat godsdienstige belydenis en die nakoming daarvan geen waarborg tot redding is nie, tensy daar nie vrugte van ware Wedergeboorte in ‘n persoon se lewe is.
            Jacobus beklemtoon verder hierdie waarheid in Jak 2:26 “Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.”
            Die les van die vyeboom is dat ons vrugte moet dra: Gal. 5:22. “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” en 24-25 “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.”.
            God veroordeel vrugteloosheid en noem dat diegene wat met Hom ‘n verhouding het, veel vrug sal dra: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.
            “As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.
            “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.
            “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.” Joh 15:5-8
            Die Huis van Juda het in 1948 na die land begin terugkeer maar hulle wou nie Christus aanvaar nie. Die vyeboom het blare begin dra, ‘n volk ja, maar ‘n volk sonder vrugte, sonder geloof in Jesus Christus die Messias.
            In 1967 is Jerusalem herower, maar steeds het die vyeboom geen vrugte nie.
            In 1980 egter vind iets heel anders plaas. ‘n Derde vyeboom verskyn op die toneel en dit begin bot toe die Huis van Israel na Jerusalem terugkeer.
            Jesus Christus sê in Matt 15:24 “Ek is net gestuur na die verlore skape van die Huis van Israel.”
            In die Ou Testament voor die skeuring was Israel en Juda een volk bekend as Israel. Israel was op ‘n tyd God se volk. Jesus Christus het in die eerste plek gekom na Israel en Juda tesame want die profesieë sê dat die twee volke weer een sal word.
            So, dis waar die aftel van die Tyd na die Einde begin, 1980!
            Dis die geslag wat in hierdie tyd leef in wie se leeftyd Hy weer kom. Die leeftyd van ‘n geslag word deur sommige op 40 jaar bepaal en ander op 52 jaar. Hoe dit ook al sy, ons nader die einde vinnig. Al wat ons nie weet nie, is die dag en die uur.
            In 1980 word Jerusalem tot Hoofstad verklaar, geografies en staatkundig.
            Dertien lande het onmiddellik hul ambassades in Jerusalem gesluit en na Tel Aviv verskuif. Die rede: As hulle in Jerusalem sou aanbly dan het dit beteken dat hulle ook Jerusalem as Hoofstad erken en dit het hulle geweier om te doen.
            Self die VN erken tot vandag toe nie Jerusalem as Hoofstad nie.
            Die volgende oomblik het die Huis van Israel van reg oor die wêreld ‘n Christen Ambassade in Jerusalem gaan vestig.


Die Internasionale Christen Ambassade in Jerusalem

            Dit staan bekend as die Internasionale Christen Ambassade, en is vandag nog steeds die enigste Ambassade in Jerusalem en werk baie nou saam met die Huis van Juda – die 12 stamme uiteindelik verenig, byna...  Is dit ‘n voorspel tot die vervulling van Eseg. 37? Is die Twee stukke hout is besig om een te word. Eseg 37:16 en verder.
            Inderdaad, die vyeboom bot!
            Dit gaan dus nie net oor die Jode (Huis van Juda, nie, maar ook oor die ander 10 stamme, die Huis van Israel: “So spreek die HERE, die God van Israel: Skryf vir jou in ‘n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het; want kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander, sê die HERE; en Ek sal hulle terugbring in die land wat Ek aan hulle vaders gegee het, en hulle sal dit in besit neem.” Jer 30:23
            En weer: “Want Israel en Juda is nie in weduweeskap gelaat deur hulle God, deur die HERE van die leërskare nie, al was hulle land vol skuld voor die Heilige van Israel.” Jer 5:15
            Die Ambassade is gestig deur ‘n wêreldwye organisasie Christian Action For Israel, met een van die stigterslede die Suid-Afrikaanse sakeman wyle Basil Jacobs wat die beweging in 1975 in Kaapstad begin het. Hy was ook een van die stigterslede van die Internasionale Christen Ambassade in 1980 in Jerusalem.
            Christene van oor die hele wêreld het destyds aan die organisasie behoort en behoort steeds daaraan, en derduisende sluit steeds aan en dra geldelik by tot die Ambassade se lopende kostes.
            Christian Action For Israel verteenwoordig suiwer Christene van oor die wêreld en het geen koppeling met enige regering, politieke party, kerkgroep of sakegroep nie.
            Die Ambassade verteenwoordig miljoene Christen gelowiges wat hul liefde en eer aan die Huis van Juda betoon.
            “Maar U, o HERE, U bly tot in ewigheid, en u gedenknaam van geslag tot geslag. U sal opstaan, U oor Sion ontferm; want dit is tyd om hom genadig te wees, want die bestemde tyd het gekom.” Ps 102:13-14
            Die Ambassade spog vandag met 30 voltydse personeellede, Christene van oral oor die wêreld.
            Die Ambassade bevorder Bybelkennis met betrekking tot die Christene (Israel en die Jode), Toerisme asook verskeie projekte tot heil van almal in die land.  Die Ambassade het 70 takke wêreldwyd.
            Mens kom nie weg van  Juda (twee stamme) en Israel (10 stamme) nie. Die 12 het destyds geskeur. Lees daaroor in 1 Kon 11:26 en verder.
            En later gebeur dit dat God van Sy volk skei weens die volk se geestelike owerspel: “En Ek het gesien toe Ek uit oorsaak van die owerspel van die afkerige, Israel, haar verstoot en haar, haar skeibrief gegee het, dat die ontroue, haar suster Juda, nie bevrees was nie, maar gegaan en ook self gehoereer het.
            “En vanweë haar ligsinnige hoerery het sy die land ontheilig, ja, sy het owerspel bedrywe met klip en hout.
            “Maar ook ondanks dit alles het die ontroue, haar suster Juda, haar nie met haar hele hart tot My bekeer nie, maar valslik, spreek die HERE.
            “Toe het die HERE vir my gesê: Die afkerige, Israel, het haar siel geregverdig meer as die ontroue, Juda.” Jer 3:8-11
            Dit bring ons by die volgende: Matt 24:32  “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.
            “So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.
            “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. (Watter geslag: Hierdie geslag van 1980... toe die vyeboom begin bot het.)
            “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
            “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die Engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” Matt 24:32-36
            Jesus Christus vervloek die vyeboom wat blare dra, maar geen vrugte nie. Juda en Israel het geen vrug gedra nie. Daar was ongeloof en twee goue kalwers is aanbid. Daar was ook nie skeibrief.
            Ingevolge die Wet moet die man eers sterf voordat die vrou weer mag trou. Jesus Christus sterf toe sodat Juda en Israel weer met God versoen kon word, maar nie net hierdie twee nie, ook mense uit elke nasie, stam, volk en taal.
            Die vyeboom word vervloek, die Tempel gereinig sodat die ou dispensasie afgesluit kon word.
            Die Nuwe Dispensasie begin met Jesus Christus se sterwe aan die Kruis van Golgota. Saam daarmee kry ons ‘n Nuwe Testament.
            “En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.
            “Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.
            “Want dit is my bloed, die bloed van die Nuwe Testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.” Matt 26:26-28
            Jesus Christus laat ons as gelowiges ‘n Testament agter, en Hy noem ons erfgename. Dis die wonderlikste Testament ooit. Ons erf verstommende dinge.
            Dan natuurlik die Belofte van Sy wederkoms: “Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.” Matt 26:29. Wat ‘n glorieryke vooruitsig is dit nie.
            Baie van ons wonder wanneer dit sal wees? “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” Mark 13:30
            Watter geslag het Hy hier na verwys? Die geslag wat sal leef in die tyd wat die vyeboom begin bot.
            As die vyeboom dan in 1980 begin bot het, hoe lank nog – 40 jaar, 52 jaar?
            “En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” Matt 24:3
            En dan vertel Jesus wanneer dit sal wees: Vanaf Matt 24:4 tot Matt 24:29.
            Dan die groot oomblik: “En dan sal die teken van die Seun van die mens in die Hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.
            “En Hy sal sy Engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.
            “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.
            “So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” Matt 24:30-33
            Daar is vandag haas geen gelowige wat nie in toenemende maat opmerk dat ons inderdaad in die eindtyd is nie.
            Vir die gelowige is al hierdie dinge nie belangrik nie anders as om te besef dat die tyd bitter min raak om siele in te win. Jesus Christus sê in Matt 25:13 “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.”
            Wanneer mens waak, is jou oë oop. Gelowiges besef wat aan die gang is. Die dag of die uur is nie belangrik nie, maar die feit dat die tyd aangebreek het, is van grootste belang.
            As jy nog nie Christus as Saligmaker aangeneem het nie, weet dit: God het met jou ‘n afspraak, vir seker!
            Let weer op: Matt 24:37-42 “En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
            “Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die Ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
            “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat.
            “Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.
            “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.
            Let op dat die hele verhaal gaan nie oor ‘n land nie, maar altyd oor Jerusalem. In elk geval is daar nêrens in die Bybel ‘n land met die naam Israel nie. Op alle landkaarte agter in alle Bybels word die land Palestina genoem.
            Die profesieë handel oor Jerusalem. Jerusalem is die middelpunt van die aarde. Te midde van sy lang geskiedenis was Jerusalem al twee keer vernietig, 23 keer beleër, 52 keer aangeval en 44 keer verower en herower.
            “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!” Ps 122:6
            Die Huis (Volk) van Israel bestaan uit 10 stamme en Juda uit twee stamme. Dis hierdie 12 stamme van Israel en Juda wat ons voor die Groot Wit Troon sien staan, 144 000 van hulle – 12 000 verseëldes uit elk van die 12 stamme – die Israelvolk verenig. Openb 7:4
            Dit is natuurlik die volgende uitgesluit: “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale – Luk 14-21-27 –  hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ‘n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” Openb 7:9-10
            Alles is besig om in plek te kom. Jode wat Christus reeds as Saligmaker aangeneem het, noem hulself Messiaanse Jode. Daar is verskeie gemeentes in Jerusalem en omstreke asook reg oor die wêreld heen, selfs in Suid-Afrika. In sommige gevalle sluit Christene ook by die gemeentes aan.
            Wat die land betref is die naam nie Israel nie want Israel is ‘n volk. Die land se naam is Palestina, soos wat dit korrek na verwys word in alle landkaarte agter in alle Bybels.
            Die woord Palestina (Falastina, Phalastina, etc) is afgelei van de woord Filistea (word ses keer in die Bybel genoem) / Filistin / Felesheth, wat vry vertaal beteken: die land van die Filistyne. Die Filistyne was ‘n seevarende volk wat deur die Israeliete in die Hebreeuse Bybel genoem word Palestina.
            In 1954 het Prof E.P. Groenewald en A van Deursen ‘n boek uitgegee met die naam “Palestina – Die Heilige Land.”
            Die volgende wat verwag kan word is enorme steun vanuit die geledere van die Arabiere wanneer ‘n herlewing hulle sal tref. Die Arabiere is die halfbroer van Jode, weens Abraham se verwekking van Ismael.
            Tydens ons sending in die Yom Kippoer Oorlog, was dit veral Arabiere wat die graagste Nuwe Testamente begeer het en wedergebore is. Nou rapporteer betrokkenes dat daar ‘n Christen herlewing in die Arabiese wêreld aan die gang is.
            Gelowiges moenie Islam vrees nie. Islam se opmars is ‘n geleentheid, ‘n uitdaging. Meer mense moet by gebedsgroepe aansluit of nuwe gebedsgroepe stig.
            Gebed is ‘n nasie-skuddende, geskiedenis-makende, wêreld-verskuiwende saak.
            Intussen is verskeie Christen organisasies in die Arabiese wêreld besig om die Evangelie van Jesus Christus uit te dra. Daar is ‘n geestelike herlewing soos wat Arabiere, jonk en oud hulle na Christus keer. Hierdie werkers werk onder moeilike en gevaarlike omstandighede. Dra hulle in julle gebede. Dis noodsaaklik.
            Die herlewing onder die Arabiere vind oral oor die Arabiese wêreld plaas, selfs in Noord-Afrika, die Midde-Ooste, Kanada en die VSA.
            Bid ook vir die nuwe Arabierse Christene. Sommige verduur erge vervolging.
            Probeer om die boek van Christine Darg te bekom: “The Jesus Visions: Signs and Wonders in the Muslim World.”
            Daar is meer as 30 000 Christen sendelinge wat onder die Arabiere die Goeie Nuus bring. – Sjibbolet
·       Ns Hierdie skrywe moet saamgelees word met die opvolg hiervan:  Wie is Israel?