Saterdag 11 Julie 2020

TYD en Ewigheid was nog nooit so na aanmekaar nie.


Wêreldwyd word inperking weens Covid19 verskerp. Intussen breek talle ander euwels los. Geweldsmisdaad, veral in Amerika, ruk handuit.

            Oorkant ons grens is Mosambiek in ‘n dodelike oorlog teen Isis betrokke. Daar was sprake dat SA Mosambiek sou help, maar: “As SA hom in die gevegte in die provinsie Cabo Delgado in Mosambiek wil begewe, kan dit hom in ’n finansiële, veiligheids- en militêre penarie laat beland,” waarsku Isis.

            “Dit kan selfs daartoe lei dat Isis vir hom ’n front binne Suid-Afrika op die been bring,” lui die hoofartikel in al-Naba, Issis se nuusbrief.

Intussen kom Mosambiek nie die mas op teen Isis nie en ’n Russiese maatskappy, die Wagner-groep wat deur pres. Wladimir Poetin gestuur is om die Mosambiekse regering te help, is druipstert daar weg.

Binne SA se grense duur ernstige misdade en plaasmoorde voort. Covid19 eis sy tol.

Tyd en Ewigheid gaan nie by mekaar verby loop nie. Al wat nou saak maak  is die redding van siele.

“Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry… Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.” Matt 9: 35–38

Die Engelse handelsreisiger, Rigby, het op sy kwartaallikse rondte deur sy streek, ’n naweek in Edenburgh moes deurbring. Dan gaan hy tuis in die Waverley hotel, wat besonder gewild onder die handelsreisigers was.



https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/4/48/Portrait_of_Alexander_Whyte.jpg/220px-Portrait_of_Alexander_Whyte.jpg

 Inlas: Dr Whyte

Sondae gaan hy na St. George’s Kerk toe, om na Dr Alexander Whyte, ’n kragtige Evangelieprediker, te luister. Hy het altyd probeer om een van die ander handelsreisigers, wat ook in die hotel tuisgaan, saam te neem kerk toe.

Een keer neem hy ’n Roomskatolieke kollega saam. Dr. Whyte se preek het die man diep getref en terug by die hotel kon Rigby die vreugde smaak om hom na Christus te lei.

Sy hart het hom gedring om Dr Whyte te bel en hom van die man se bekering te vertel. Hy het gehoor dit bemoedig ’n predikant om te hoor van vrug op sy prediking.

Dr  Whyte het met vreugde na Rigby se vertelling geluister. “Sê tog asseblief weer wie praat,” versoek Dr  Whyte na­dat Rigby klaar sy storie vertel het.

Rigby noem weer sy naam. “Weet jy, jare al soek ek na jou!” roep dr  Whyte uit. “Bly ’n oomblik aan.” Rigby kon hoor hoe daar met papiere gevroetel word.

Toe praat Dr Whyte weer. “Ek staan hier met briewe in my hand. Luister na dié een: ‘Ek moes ’n paar weke gelede ’n naweek in Edenburgh deurbring. ’n Medehandelsreisiger, met die naam Rigby, het my dié Sondag saamgenooi St. George’s toe. Die preek het tot my bekering gelei.’

Ek het 12 sulke briewe in my hand. Van dié manne het 4 predikante geword!”

Rigby het nie geweet van die omvang van die oes, wat gespruit het uit sy getrouheid om iemand met hom saam te neem om die Evangelie te hoor nie. Die HERE se koninkryk word van mens tot mens in hierdie wêreld voortgeplant.

Gelukkig is elkeen wat doelbewus die Evangeliesaad saai. Miskien sal hy nooit eers hoor dat daar ’n oes was nie. Iemand anders sal dalk die maaier wees, van die oes waarvan hy die saaiwerk gedoen het.

“Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die Ewige Lewe. Die een wat saai, en die een wat oes, is jubel saam in blydskap. Joh 4:35,36

Die tyd waarin ons leef, kan die laaste van die Tyd wees voordat die Ewigheid oorneem. Wie Jesus nie voor die dood ken nie, sal Hom ook nie na die dood ken nie.

Al bring jou getuienis of liefdesdaad net ‘n enkele siel in, jubel die Engele. – Wekroep